AfriForum-buurtwagte: Nóg 13 skietinstrukteurs nou opgelei
Nóg 13 AfriForum-buurtwaglede is die afgelope twee naweke in Paulpietersburg as skietinstrukteurs opgelei. Dié opleiding word deur AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid aangebied en is daarop toegespits om lede toe te rus met die nodige vuurwapenkennis en -vaardighede om basiese skietopleiding binne hul eie gemeenskappe te verskaf.
Die nuutgekwalifiseerde skietinstrukteurs is aktiewe lede van verskeie AfriForum-buurtwagte in KwaZulu-Natal en Piet Retief, Mpumalanga. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se breër doelwit om plaaslike veiligheidsstrukture te bemagtig deur gespesialiseerde opleiding en gemeenskapsgedrewe kapasiteit uit te brei.
“Ons het minstens twee skietinstrukteurs per tak opgelei sodat die instrukteurs mekaar kan ondersteun tydens opleiding in hul gemeenskappe” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
“Hierdie opleidingsprogram, wat in September 2022 van stapel gestuur is, het reeds talle suksesvolle sessies regoor die land opgelewer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Dit vorm deel van AfriForum se voortgesette pogings om gemeenskappe te help om meer selfstandig en veerkragtig te word. Deur selfverdedigingsopleiding te prioritiseer, stel ons burgers in staat om proaktief op te tree om hul eie veiligheid te verbeter.”
Die kursus, wat deur AfriForum gefasiliteer word, kwalifiseer lede as geakkrediteerde baanbeamptes en basiese skietinstrukteurs. Hierdie opgeleide individue bied hul dienste vrywillig aan mede-buurtwaglede en taklede aan, en help met die organisering en bestuur van skietoefeninge in samewerking met plaaslike leierskap.