AfriForum-noodfonds help brandbestryders om veldbrande sonder vrees te pak
Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Soundbite: Tarien Cooks (English)
AfriForum is op hoë gereedheid vir die veldbrandseisoen en sy noodfonds het toegesien dat 300 pakkies saamgestel is om brandbestryders – insluitend boere en gemeenskapslede – te ondersteun terwyl hulle verwoestende brande aan die noordelike dele van die land help bestry.
“Wanneer brandbestryders veldbrande blus affekteer die intense hitte en rook dikwels hul vermoë om die brande effektief te bestry, veral in gevalle van ’n wegholbrand. Dié individue kry veral te doen met droë oë, -keel en -lippe, raak maklik gedehidreer as gevolg van die hoë temperature en kan ernstige brandwonde opdoen,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.
Elke pakkie is kompak en draagbaar sodat dit maklik aan die draer se gordel vasgemaak kan word. Die inhoud is spesifiek saamgestel om aan die onmiddellike behoeftes van ’n brandbestryder te voorsien en sluit onder meer oogdruppels, sonbrandmiddel, lipsalf en isotoniese koeldrankpoeier in. Daar is ook ’n kleefverband, pleisters en Burnshield-produkte bygevoeg vir die onmiddellike behandeling van brandwonde. Die pakkies sal aan brandbeskermingsverenigings gestuur word om te gebruik soos nodig.
“Die uitdagings met veldbrande is nie net dat dit ’n bedreiging vir die omgewing inhou nie, maar ook vir die lewens en lewensbestaan van gemeenskappe. Dit is van kardinale belang dat gemeenskappe saamstaan om mekaar in tye van nood te ondersteun. AfriForum se inisiatief om hierdie pakkies aan brandbestryders te verskaf, is ’n voorbeeld van hoe organisasies, ondernemings en individue saam kan werk om ons gemeenskappe te beskerm. Elke bydrae tel en dit is ons verantwoordelikheid om te help waar ons kan,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.
Danksy die ruim skenking deur Burnshield, die XCO Group en die Arrie Nel-apteekgroep is die samestelling van hierdie pakkies moontlik gemaak.


AfriForum se noodfonds stel dié burgerregteorganisasie in staat om onmiddellik en doelgerig te reageer wanneer gemeenskappe deur rampe soos veldbrande getref word. Anders as die regering, wat keer op keer faal om rampfondse betyds en deursigtig beskikbaar te stel, verseker AfriForum dat elke sent verantwoordelik en doelmatig aangewend word waar dit die nodigste is.
“Ons gemeenskappe kan nie langer op die regering wag nie en dit is waarom AfriForum die noodfonds op die been gebring het – om ’n helpende hand te verleen wanneer dit die nodigste is,” sê Cooks.
Lede van die publiek wat graag ’n bydra tot AfriForum se noodfonds wil maak, kan ’n direkte donasie maak. Die bankbesonderhede vir die noodfonds is as volg:
Bank: Eerste Nasionale Bank (FNB)
Rekeninghouer: AfriForum MSW
Takkode: 261550
Rekeningnommer: 623 498 98 398
Verwysing: Veldbrand