|

Privaatvervolgingseenheid sal toesien dat geregtigheid vir vermoorde oud-speurder geskied

Kolonel Willie Steyn, ’n afgetrede speurder, het hom nou tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend uit vrees dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie al die nodige bewyse versamel het in sy dogter, ook ’n oud-speurder, se moordsaak nie. Steyn se dogter, Riana Nel, is wreedaardig aangerand en vir die dood agtergelaat voor sy sowat ’n week later in die hospitaal aan haar beserings beswyk het. Mauritz Andries Rheeder, Nel se vriend, word daarvan beskuldig dat hy haar vermoor het en is tans in aanhouding hangende ’n borgaansoek.

Rheeder, ook ’n voormalige polisiebeampte, word daarvan beskuldig dat hy Nel op die aand van 31 Mei in hul woonstel in Mthatha aangerand het. Hy het na bewering die toneel rangskik om dit te laat lyk asof hy op Nel se liggaam afgekom het. Nel is egter nie op die toneel dood nie en Rheeder het haar die volgende oggend, op aandrang van ’n familielid, eers na die hospitaal geneem.  Nel is op 6 Junie in die hospitaal oorlede sonder dat sy haar volle bewussyn herwin het of kon verduidelik wat gebeur het.

Die privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan die Madeira SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag gerig. Hierin bevestig die privaatvervolgingseenheid dat hy, saam met Nel se familie, daartoe verbind is om toe te sien dat die saak volledig ondersoek word, dat alle relevante bewyse versamel word en in die dossier ingesluit word, en dat die skuldige vervolg sal word.

“Hierdie tragiese insident is nóg ’n geval van geslagsgebaseerde geweld, hierdie keer is die weerlose slagoffer blootgestel aan grusame aanranding wat uiteindelik tot haar dood gelei het,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Kolonel Willie Steyn is ’n gerespekteerde, ervare oud-speurder wat vir baie jare in die SAPD se Moord en Roof gespesialiseerde eenheid gedien het en beide die verdagte en slagoffer was ook oud-polisielede. Ons staar daarom nou ’n tragiese ironie in die gesig waar ’n familie, wat hulle lewens daaraan gewy het om die strafregstelsel te bevorder, nou staatmaak op die dienste van dieselfde stelsel waaraan hulle hulself gewy het,” voeg adv. Nel by.

Die privaatvervolgingseenheid het die SAPD in kennis gestel van moontlike tekortkominge in die ondersoek wat onmiddellike aandag verg om sodoende ’n suksesvolle vervolging te verseker en ook om Rheeder se borgaansoek teen te staan wat tans in die Mthatha-landdroshof aangehoor word.

Die borgaansoek sal op 1 Julie voortgesit word.

Soortgelyke plasings