AfriForum spandeer meer as R25 000 om Vryburg veiliger te maak
Die AfriForum-tak in Vryburg het die laaste twee maande minstens R25 000 aan projekte spandeer om dié Noordwes-dorp ’n veiliger omgewing vir voetgangers, motoriste, ondernemings en skoliere te maak.
Die tak het meer as twee hektaar se gras in parkies – waardeur skoliere op pad skool toe loop – en om besigheidspersele gesny om inbrake by dié persele te voorkom. Dit was veral belangrik om die gras op die roetes te sny waarvan skoliere gebruikmaak om hul veiligheid skool toe en terug te verseker.
Verder het die tak meer as 80 liter se padverf gebruik om meer as 16 spoedhobbels regdeur die dorp oor te verf. Die tak het ook, in samewerking met die DA, die stoptekens op die pad om die privaat hospitaal en Pick n Pay oorgeverf.
“Dit is belangrik dat spoedhobbels en stopstrate instandgehou word om ’n veiliger omgewing vir motoriste en voetgangers te skep. AfriForum se Vryburg-tak sal aanhou om Vryburg ‘n veiliger gemeenskap vir almal te maak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die Vryburg-tak is besig om verskeie ander projekte te beplan en beoog om binnekort ’n voltydse buurtspan op die been te bring, wat meer probleme op ’n gereelde basis in die dorp kan takel,” sluit Nel af.
Die AfriForum-tak in Vryburg moedig die gemeenskap aan om by die struktuur betrokke te raak om Vryburg ’n beter plek vir almal te maak. Klik hier vir meer inligting.
