|

R12 miljoen in net drie jaar vir ’n stukkende kaartdrukker

Deur Ilze Nieuwoudt

Belastingbetalers het in die afgelope net meer as drie finansiële jare meer as R12 miljoen opgedok vir die herstel en instandhouding van ’n lisensiekaartdrukker wat ten beste lendelam is. Barbara Creecy, minister van Vervoer, het in reaksie op ’n vraag in die parlement onlangs dié en ander skoksyfers rakende die land se enigste lisensiekaartdrukker gegee.

Kaartdrukker: ’n Duur en bodemlose put

Luidens haar parlementêre terugvoer het herstel en instandhouding aan dié masjien in 2022/2023 nagenoeg R9,3 miljoen beloop, terwyl die koste in 2023/2024 en 2024/2025 op onderskeidelik sowat R1,7 miljoen en net meer as R500 000 te staan gekom het. In die eerste twee en ’n half maande van die 2025/2026-finansiële jaar het dié koste reeds meer as R600 000 beloop. Dit bring die totale koste vir instandhouding en herstelwerk vir die 38,5 maande vanaf 2022/2023 tot Mei 2025 op ’n allemintige R314 000 per maand te staan.

Ten spyte van dié reusebedrae wat opgedok word, was dié masjien – die enigste van sy soort in die land – uit die 1 171 dae vanaf 1 Maart 2022 tot 15 Mei 2025 129 dae lank (oftewel 11% van die tyd) buite werking. In die 75 dae vanaf 1 Maart tot 15 Mei vanjaar was die masjien 51% van die tyd buite werking.

Teen 8 Mei het die departement aangekondig dat die drukker, wat sedert 5 Februarie buite werking was, weer herstel is. Dié langdurige vertraging het tot ’n agterstand van 747 748 lisensiekaarte gelei. Hiervan was meer as 250 000 kaarte agterstallig in Gauteng, gevolg deur KwaZulu-Natal waar ’n agterstand van net meer as 115 000 aangeteken is en die Wes-Kaap met ’n agterstand van sowat 108 000 kaartjies.

(Die minister se volledige terugvoer is hier beskikbaar.)

Oorwerk en ooreis?

Die 27 jaar oue masjien staan nou as’t ware op sy laaste wankelrige bene nadat dit in byna drie dekades se dienstyd reeds meer as 160 keer gebreek het.

Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, moes dié strydros van ’n masjien maar ’n operasionele leeftyd van 10 tot 15 jaar hê. Dit is daarom geen wonder nie dat dié drukker met die een voet in die spreekwoordelike graf staan nie.

“Die probleem word vererger deur die feit dat die masjien slegs in Duitsland versien kan word,” verduidelik hy. “Die departement se verweer is telkens dat hulle die drukker wil vervang met ‘n nuwe masjien wat kaarte met gevorderde sekerheidskenmerke kan druk en wat plaaslik versien kan word.”

Van dié planne het daar egter, weens ongerymdhede, nog nie veel gekom nie. ’n Verskaffer is verlede jaar aangewys, maar die kontrak is in die wiele gery weens die verskaffer se betrokkenheid by ander kontrakte wat onder ’n wolk van ongerymdhede staan.

Intussen word dié vyfjaarkontrak, ten bedrae van R898 miljoen vir die aanskaffing van drie nuwe masjiene sowel as die sagteware en genoegsame blanko kaarte vir vyf jaar volgens die departement ondersoek.

Mislukkings: Só raak dit jou beursie

AfriForum het vandeesweek ’n dringende beroep op Creecy gedoen om te midde van die reuse-agterstand in die druk van lisensiekaarte, die uitreiking van tydelike lisensies kosteloos aan motoriste beskikbaar te stel.

Boshoff verduidelik dat die departement se riglyne bepaal dat motoriste hul bestuurderslisensies minstens vier weke voordat dit verval, moet hernieu. “Indien dit reeds verval het, moet jy ’n tydelike lisensie teen ’n bykomende koste aanskaf,” verduidelik hy. Hy hou egter vol dat dié koste onbillik is indien ’n motoris sy lisensieaansoek betyds indien en dan weens die agterstand met die druk van kaarte die risiko loop om nie die nuwe lisensie betyds te kry nie.

Die koste van ’n nuwe bestuurderslisensiekaart verskil van streek tot streek, maar word landwyd teen ’n gemiddelde bedrag van nagenoeg R250 per lisensie uitgereik. Daarbenewens kan motoriste in Gauteng verwag om R75 vir ’n tydelike lisensie te betaal, terwyl dit volgens inligting van die Wes-Kaapse regering R45 in dié provinsie kos en in KwaZulu-Natal R90.

Departemente baat moontlik miljoene rande by agterstand

Indien ’n berekening gemaak word van die potensiële bykomende inkomste wat die regering uit die vertragings met die druk van lisensiekaarte trek, blyk dit dat dié krisis wat motoriste die josie in maak, dalk selfs noemenswaardige finansiële voordele vir die regering inhou.

Gestel motoriste in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap wat teen Mei vanjaar nog nie hul nuwe lisensies ontvang het nie, moes almal tydelike lisensies kry, het motoriste in dié drie provinsies alleen meer as R34,1 miljoen vir tydelike lisensies betaal.

In Gauteng sou die 252 745 lisensiehouers wat weens drukkerprobleme moontlik tydelike lisensies teen R75 per lisensie moes aankoop, ’n totaal van R18,95 miljoen hiervoor betaal het.

Die 115 020 motoriste in die Wes-Kaap wat teen 8 Mei vanjaar nog nie hul lisensies ontvang het nie, sou (gegrond op ’n koste van R45 per tydelike lisensie) nagenoeg R4,87 miljoen opgedok het.

In KwaZulu-Natal waar dit nagenoeg R90 per tydelike lisensie kos, sou die 108 402 motoriste wat weens die agterstand nog nie hul lisensies ontvang het nie, moontlik ’n totaal van R10,31 miljoen vir tydelike lisensies moes betaal.

Hoewel nie alle lisensiehernuwings betyds gedoen word nie en die uitreiking en koste van tydelike lisensies nie alleenlik voor die deur van die departement gelê kan word nie, kan daar met redelike sekerheid gereken word dat ’n groot aantal lisensiehouers moontlik tydelike lisensies moes uitneem weens die blote feit dat die departement hulle gefaal het en drukwerk van nuwe kaarte sloer.

Oor die moontlike (reuse-) finansiële voordeel wat tydelike lisensies vir die regering inhou, is Boshoff dit eens – die regering baat op ’n onbillike wyse by die probleme wat deur die stukkende lisensiekaartmasjien veroorsaak word.

“’n Gedeelte van die 733 000 motoriste wat volgens die departement teen 15 Mei deel van die agterstand was, is moontlik mense wat te laat aansoek om die hernuwing van hul lisensies gedoen het en dus ’n tydelike lisensie sou moes uitneem. Daar is egter definitief ook baie mense vir wie dit nie sou nodig wees om ’n tydelike lisensie te koop as die lisensies vinnig genoeg druk kon word nie. Boonop weet ons nie wat van al die geld word wat op hierdie wyse ingewin word nie,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings