|

Solomon Mahlangu-verkeerslig herstel ná AfriForum druk op Tshwane-metro toepas

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het op 17 Junie uiteindelik die verkeerslig op Solomon Mahlangu-rylaan, waar dit die R21 kruis, herstel nadat dit vir nagenoeg twee maande buite werking was.

Hierdie herstelwerk volg byna ’n maand nadat AfriForum op 20 Mei ’n formele brief aan Johann Mettler, bestuurder van die Tshwane-metro, gerig het waarin die organisasie geëis het dat die verkeerslig binne vyf werksdae herstel moet word. Teen daardie tyd was die verkeerslig reeds vir sowat twee maande buite werking en het daaglikse verkeersopeenhopings veroorsaak en ’n gevaar vir padgebruikers, nooddienste en voetgangers ingehou.

Volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, beklemtoon hierdie voorval weereens dat die Tshwane-metro nie vanself proaktief kan optree nie.

“Ons moet keer op keer die metro soos ’n perd na die water lei. Dit is presies hoekom AfriForum voortgaan om nie net staatsverval te beveg nie, maar ook om volhoubare oplossings vir die gemeenskap te bou,” sê Roodt.

AfriForum is reeds betrokke by verskeie ander projekte oor die metro heen – van die herstel van slaggate en die instandhouding van parke, tot die beveiliging van woonbuurte en kritiese infrastruktuur.

“Ons gemeenskapslede is moeg daarvoor om te wag vir ’n staat wat nie wil of kan bou om verval teen te staan nie. Ons bou intussen self die oplossings maar hou terselfdertyd die metro verantwoordbaar vir elke plig wat hulle versuim. Dít is AfriForum se veg en bou-strategie. Ons sal nooit net kla nie, maar ons sal ook nie stilbly nie.”

AfriForum doen ’n beroep op inwoners om hul stemme te gebruik, hul oë oop te hou en te help om wanfunksionele infrastruktuur aan te meld deur die skakel te volg: www.artikels.afriforum.co.za/meld-stukkende-verkeersligte-hier-aan/.

Sluit vandag nog by AfriForum aan. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings