|

AfriForum eis dringende ingryping by vullisterreine in Bloemfontein

In ’n dringende brief wat AfriForum op 10 Junie aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, gerig  het, word geëis dat die vervalle toestand van die metro se noordelike en suidelike vullisterreine dringend omgekeer word. Hierdie terreine verkeer reeds vir etlike jare in ’n toestand van wetteloosheid en verval, ten spyte van herhaalde waarskuwings en versoeke om op te tree.

Volgens AfriForum se Bloemfontein-tak word daar jaarliks toenemende wetlike oortredings by hierdie terreine waargeneem, wat nie net die metro se eie afvalbestuursverpligtinge versuim nie, maar ook verskeie nasionale wetgewing, insluitend die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, en die Wet op Luggehalte oortree. Die terreine voldoen eenvoudig nie aan minimum omgewings-, gesondheids- of veiligheidsvereistes soos deur wetgewing en lisensievoorwaardes bepaal nie.

Een van die mees ontstellende aspekte is die onwettige bewoning van die terreine deur individue wat sonder enige vorm van toesig of regulasie daar leef. Dit belemmer veilige bedrywighede en skep ruimte vir misdaad en gevaarlike praktyke. Daar is geen doeltreffende toegangsbeheer of moniteringstelsels om aktiwiteite op die terreine te reguleer nie.

Boonop is baie van die voertuie en toerusting op die terreine nie funksioneel of veilig nie, wat werkslui en rommelversamelaars se lewens in gevaar stel, en ook ’n risiko vir die omliggende gemeenskappe inhou.

Die gebrek aan befondsing in basiese infrastruktuur is ’n direkte weerspieëling van die munisipaliteit se versuim om sy verantwoordelikhede ingevolge sy eie Geïntegreerde Afvalbestuursplan na te kom.

Nog ’n ernstige probleem is die voortdurende brande op die terreine. Hierdie vure laat dik rook oor woonbuurte hang met veral kwesbare inwoners wat die gevolge dra. Dit hou gesondheidsrisiko’s in en is ’n oortreding van die Wet op Luggehalte, wat plaaslike owerhede verplig om sulke bedreigings te voorkom.

AfriForum het ook kommer uitgespreek oor die onbeheerde en onwettige storting van huishoudelike en gevaarlike afval, wat sonder enige duidelike protokolle of beskermingsmaatreëls plaasvind. Dit lei tot ernstige omgewingskade, grond- en waterbesoedeling, en verhoogde brandrisiko’s, plae en siekteverspreiding. Die situasie op voetsoolvlak toon duidelik dat geen van die terreine voldoen aan die standaarde wat vir sodanige fasiliteite vereis word nie.

Die probleem strek egter verder as die grense van die terreine self. Daar is ’n skerp toename in onwettige storting van afval buite die aangewese terreine. Die publiek en ondernemings vermy dit om van die bestaande fasiliteite gebruik te maak omdat dit onveilig is, wat ’n toename in onwettige vullisterreine regoor die metro en ’n verdere las op openbare gesondheid veroorsaak.

AfriForum eis in die brief dat die Mangaung-munisipaliteit binne 14 dae ’n skriftelike reaksie verskaf, sowel as ’n omvattende aksieplan wat ’n tydlyn en konkrete stappe insluit vir die herstel van beide terreine tot minimum wetlike en operasionele standaarde. Die organisasie dring ook aan op duidelike optrede teen onwettige storting en die implementering van maatreëls by die vullisterreine om toeganklikheid en veiligheid te verseker en omgewingsrisiko’s te beperk.

Sou die munisipaliteit versuim om aan hierdie versoeke gehoor te gee, sal AfriForum nie skroom om die saak onder die aandag van provinsiale en nasionale owerhede te bring nie. Regstappe sal ook oorweeg word om inwoners se regte en die omgewing te beskerm.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, is die huidige situasie niks minder nie as ’n omgewingsramp en ’n skending van inwoners se reg op ’n veilige en gesonde leefomgewing. AfriForum doen ’n beroep op die munisipaliteit om nie langer hierdie kwessies te ignoreer nie en hul wetlike en morele verpligtinge na te kom teenoor die inwoners van die Mangaung-metro.

Soortgelyke plasings