|

Rioolkrisis: Nylstroom-tak dien MRK-klag in teen Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit

AfriForum se Nylstroom-tak het ’n formele klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien teen Ntoampe Thobela, die munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit, oor die voortslepende rioolkrisis wat Modimolle teister. Dié gemeenskap gaan nou al vir maande lank gebuk onder swak dienslewering en onbehandelde riool wat in die strate en in die plaaslike riviere inloop.

Die rioolkrisis het ’n onhoudbare situasie geskep waar onbehandelde rioolwater ’n aanstootlike reuk veroorsaak en ook ’n ernstige gesondheidsrisiko vir inwoners inhou. Veral mense in laagliggende gebiede word direk geraak, aangesien hul eiendomme oorstroom word met besoedelde water. Hierdie situasie bedreig hul gesondheid deur die verspreiding van siektes nie en veroorsaak beduidende skade aan hul eiendom.

Hierdie krisis word verder vererger deur die feit dat die plaaslike rioolwerke nie daarin slaag om die jaarlikse blou- en groendruppeltoets te slaag nie, wat ’n duidelike aanduiding is van die munisipaliteit se onvermoë om basiese sanitasiedienste te lewer en die omgewing te beskerm.

“Ons lede in Modimolle ly al maande onder hierdie onaanvaarbare toestand. Die riool wat in die strate afvloei en die riviere besoedel is ’n direkte skending van ons mense se reg op ’n skoon en gesonde omgewing,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

“Ons het geen ander keuse gehad as om die Menseregtekommissie te nader en ’n klagte teen Thobela in te dien nie. Die onbevoegdheid en nalatigheid van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit is eenvoudig onvergeeflik.”

AfriForum doen ’n beroep op die Modimolle-gemeenskap om saam te staan en ’n einde te maak aan hierdie swak dienslewering.

“Deur gesamentlike optrede kan ons die munisipaliteit aanspreeklik hou en verseker dat ons basiese dienste van ’n aanvaarbare standaard ontvang,” sluit Kotze af.

AfriForum is daartoe verbind om die belange van sy lede en die breër gemeenskap te beskerm, en sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen totdat hierdie rioolkrisis opgelos is. Jy kan ook ’n verskil maak by www.wordlid.co.za.

Vir verdere inligting of om ’n probleem aan te meld, kontak asseblief vir Hendrik Kotze by hendrik.kotze@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings