|

AfriForum begin hofstryd om die Onteieningswet ongrondwetlik te laat verklaar

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien om die grondwetlikheid van die omstrede Onteieningswet 13 van 2024 te betwis. AfriForum hou vol dat hierdie wet, wat op 20 Desember 2024 deur president Cyril Ramaphosa onderteken is en waarvan die kennisgewing van ondertekening daarvan eers ’n maand later, op 24 Januarie 2025, in die Staatskoerant gepubliseer is, ’n ernstige bedreiging inhou vir die grondwetlike reg op privaat eiendom in Suid-Afrika.

AfriForum voer aan dat sekere artikels en bepalings van die wet inherente teenstrydighede bevat, en daarom deur die hof as ongrondwetlik verklaar moet word. As alternatief vra AfriForum vir ’n bevel wat dié spesifieke bepalings as ongrondwetlik verklaar.

AfriForum se kernargument is dat artikel 12(3) van die wet, wat voorsiening maak vir die onteiening van eiendom teen nulvergoeding, die besliste moontlikheid van die misbruik van openbare mag kan meebring aangesien elke onteieningsowerheid, insluitende wanbestuurde plaaslike owerhede, die mag gegee word om onteiening teen nulvergoeding toe te pas.

’n Verdere belangrike swakheid wat AfriForum in die wet uitlig, is die feit dat die wet die onteiening van eiendom toelaat terwyl die onteiening daarvan nog in die hof betwis word – ’n proses wat etlike jare kan duur.

Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, het die ANC se top leierskap jare lank reeds benadruk dat hul bedoeling met die Onteieningswet is om onteiening sonder vergoeding te bewerkstellig, en dat “nulvergoeding” wys op “geen vergoeding”. “Ons het gehoor dat hulle hul doelwitte is, en ons glo hulle,” sê Van Zyl.

“Ons het ons lede en die publiek aan die begin van die jaar die versekering gegee dat ons hierdie gevaarlike wet plaaslik en internasionaal gaan beveg. Die kollig wat die Amerikaanse president Donald Trump tot dusver op ’n internasionale vlak geplaas het op die gevare van hierdie wet vir eiendomsreg in Suid-Afrika, is ’n welkome verwikkeling. AfriForum se hofsaak waarin ons die wet se grondwetlikheid gaan toets, is ons belangrikste plaaslike geveg in dié stryd,” sluit Van Zyl af. 

Soortgelyke plasings