|

Polisieminister vra Bergview College-hoof om verskoning

Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)

Polisieminister Senzu Muchunu het die skoolhoof van Bergview College, Jaco Pieterse, om verskoning gevra vir die valse identifisering van Pieterse as ’n verdagte in die vermeende verkragting van ’n kind van dié skool in Matatiele in die Oos-Kaap. In ’n brief aan AfriForum se Privaatvervolgingseenheid verklaar Mchunu dat hy “menslike en persoonlike empatie” het met Pieterse en enige ander persoon na wie die vinger verkeerdelik as verdagtes gewys is. Die verskoning volg ná die eenheid se aankondiging dat dit, as Pieterse se regsverteenwoordigers, gereedmaak om sake van kriminele laster teen Mchunu en ander politici in te dien.   

Pieterse het Mchunu se verskoning verwelkom en aanvaar dit as die eerste tree in die herstel van die onreg wat teen hom, sy gesin en die Bergview College-gemeenskap, insluitende die skool se opsigter en drywer, aangerig is. “Die valse aantyging van verkragting teen my het verwoestende gevolge op elke aspek van my lewe gehad,” verduidelik Pieterse. Hy beklemtoon dat hy en sy gesin ontsaglike sielkundige trauma gely het en vir hul lewe gevrees het. Hulle moes vir hul eie veiligheid in skuiling gaan, hul huis agterlaat en hul gemoedsrus en ’n normale gesinslewe prysgee. “Te veel leuens en verdraaiings doen steeds die ronde, en dit is tyd dat die waarheid duidelik en openlik erken word,” gaan hy voort.   

Mchunu aanvaar in die brief volle verantwoordelikheid. Hy voer onder meer aan dat hy die verklaring (waarin Pieterse as ’n verdagte voorgehou word) goedgekeur het op grond van inligting wat hy ontvang het en dat hy geen rede gehad het om die getrouheid van die inligting te bevraagteken nie. Hy skryf voorts dat dit later uitgekom het dat die inligting foutief was en ’n saak is wat intern met die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opgeneem sal word.

In reaksie op die verskoning, het die Privaatvervolgingseenheid nog ’n brief aan Masemola gerig. Daarin verwys die eenheid na die terugvoerverslag wat op 15 April by die Portefeuljekomitee van Polisie ter tafel gelê is, waarin verklaar is dat die kind se J88- regsgeneeskundige verslag nie afdoende was nie en dat ’n forensiese maatskaplike werker met die kind ontmoet het op die dag waarop die vermeende misdaad aangemeld is.   

Die eenheid het ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gevra om, as bewaarders van die dossier en bewyse, kommentaar te lewer op onlangse gerugte van ’n statusverslag rakende ’n uitgelekte ondersoek waarin dit aan die lig kom dat ’n forensiese maatskaplike werker in ’n verslag aangedui het dat die kind nie enige trauma gely het nie en dat sy in werklikheid ontken het dat sy die slagoffer van verkragting was. Ook opmerklik is daar berig dat die senior staatsaanklaer, wat geweier het om die saak te vervolg, aangedui het dat daar geen prima facie-bewyse vir suksesvolle vervolging is nie en dat die kind nie ’n misdaad blootgelê het nie.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê die debakel kon geheel en al vermy gewees het. “Hierdie betreurenswaardige insident het beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om volgens regsvoorskrifte te werk te gaan en toe te laat dat die polisie hul ondersoek doen sonder die inmenging van sosialemedia-speurders, oningeligte politici en staatsamptenare. Geslagsgebaseerde geweld, teen veral kinders, vereis uitsonderlike omsigtigheid waar kinders se beste belange geprioritiseer moet word in alle besluite en optrede. Die valse aantygings teen Pieterse en ander het behoorlike regspleging verhinder. Ten spyte daarvan dat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid verguis is, is dit steeds onverskrokke in sy doel om geregtigheid sonder vrees, voorkeur of vooroordeel te laat geskied. Hierdie verskoning en regverdiging het net ons voorneme versterk om sterk te staan in die aangesig van sosialemedia-waninligting,” sê Bateman.   

Die eenheid sal voortgaan om Pieterse te adviseer in sy soeke na kriminele aanspreeklikheid vir die politici en vooraanstaande individue wat ’n onskuldige man valslik skuldig bevind het aan ’n vermeende misdaad waarmee hy geensins iets te doen gehad het nie.       

Soortgelyke plasings