Lichtenburg-tak voltooi omvangryke teerprojek in eerste kwartaal van 2025
Oor die afgelope drie maande het AfriForum se Lichtenburg-tak altesaam sewe ton teer en twee dromme SS60 Bitumen gebruik om ’n indrukwekkende teerprojek te voltooi. Dié omvangryke onderneming het reeds ’n wesenlike impak op die gemeenskap en die vloei van verkeer gehad.
Die Lichtenburg-tak het met behulp van verskeie plaaslike ondernemings, gemeenskapslede en selfs die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit daarin geslaag om bykans 330 slaggate regoor Lichtenburg op te vul:
- Altesaam 234 slaggate is met 180 sakke teer in Kerk- en Buchananstraat herstel.
- Nóg 63 slaggate is later met 40 sakke teer in Kerkstraat herstel.
- Altesaam 12 slaggate is met 30 sakke teer in Greef- en Buchananstraat opgevul.
- 16 slaggate in Greef- en Daniëlstraat is met 20 sakke teer opgevul.
Danksy die skenkings en ondersteuning van verskeie plaaslike ondernemings en die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, kon die tak al dié slaggate oor die afgelope drie maande herstel. AfriForum se Lichtenburg-tak wil dus die munisipaliteit, Sephaku Cement, E.S.I Solutions en ook Scotts Manor-gastehuis bedank vir hul skenkings van sement en SS60 Bitumen, asook Kringo’s Takeaways en Print Unlimited vir hul skenkings van teer.
“Die AfriForum-tak wil ook elke inwoner van Lichtenburg bedank wat betrokke was by die Lichtenburg Teerprojek, asook al die ondernemings wat skenkings gemaak het. Hierdie projek is ’n bewys dat samewerking met AfriForum ’n positiewe verskil in die opbou en verbetering van Lichtenburg kan maak,” sê Pine Pienaar, projekleier en ondervoorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.
AfriForum se Lichtenburg-tak moedig inwoners en ondernemings aan om hande te vat met die burgerregteorganisasie sodat elke straat se slaggate gevul kan word. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit. Kontak Pine Pienaar by 082 371 5312 of Jan Buscop by 082 200 8075 van die Lichtenburg Teerprojek vir verdere navrae oor hierdie projek of om betrokke te raak by toekomstige inisiatiewe.