|

AfriForum dring by Ramaphosa aan op openlike veroordeling van veragtelike “Kill the Boer”-dreunsang

Die burgerregteorganisasie AfriForum het president Cyril Ramaphosa vandag skriftelik versoek om ’n onboetvaardige standpunt teen veragtelike dreunsange soos “Kill the Boer” in te neem en dit openlik ten sterkste te veroordeel. Dié versoek volg in reaksie op gebeure tydens die pas afgelope Menseregtedag waartydens Julius Malema, leier van die EFF, en lede van die party dié dreunsang gesing het. Dié dreugsang teiken uitdruklik sekere mense, naamlik die wit minderheid en boere. Indien die president rasseverhoudinge wil verbeter, wil toesien dat alle burgers van die land veilig voel en niemand uitdruklik geteiken of geïgnoreer word nie, sal die veroordeling van hierdie gewelddadige dreunsang ’n deurslaggewende stap in die regte rigting wees.

AfriForum voer daarbenewens aan dat dit hoog tyd is om plaasmoorde tot ’n nasionale prioriteitsmisdaad, soos uiteengesit in die Polisiewet, te verklaar. Dit is volgens AfriForum ’n eenvoudige en wyd erkende beginsel in polisiewese dat ’n unieke misdaad ’n unieke teenstrategie vereis. Verskeie ander misdade, insluitende geslagsgebaseerde geweld, transitorowe, bendegeweld en renosterstropery is reeds geklassifiseer as prioriteitsmisdade. Die regering se weiering om die logiese ding te doen en plaasmoorde tot prioriteitsmidaad te verklaar, bevestig net verder die idee dat geweldsmisdaad wat boere en minderheidsgemeenskappe in die besonder raak, deur die regering geïgnoreer word.

Ramaphosa het in 2018 tydens ’n besoek aan die VSA in ’n onderhoud valslik aangevoer dat daar geen moorde op boere of wit boere in Suid-Afrika plaasvind nie. Hy het ook nog nooit hierdie growwe valse stelling teruggetrek nie. Indien die president wil wys dat Suid-Afrika ’n plek is waar die ontkenning van die realiteit van enige geweldsmisdaad onwelkom is, moet hy volgens AfriForum die aanstootlike en valse stellings wat hy internasionaal gemaak het, terugtrek. 

Die skrywe aan Ramaphosa beklemtoon laastens dat die regering nouer moet saamwerk met gemeenskapsveiligheidstrukture – soos buurt- en plaaswagte – in landelike gebiede om ’n bydrae te maak tot die stryd teen plaasaanvalle en misdaad in landelike gebiede in die algemeen. Gemeenskappe oor die hele land heen het reeds die vermoë gevestig om misdaad in landelike gebiede op grondvlak te beveg in samewerking met en aanvullend tot die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Dié gemeenskappe werk reeds nou saam met die Polisie om hul gemeenskappe veiliger te maak.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, versterk die president se stilswye oor die “Kill the Boer”-dreunsang die idee dat hy meer besorgd is daaroor om nie die EFF te ontstel nie, as wat hy daaroor is om gerusstelling te bied aan minderheidsgemeenskappe wat legitieme kommer en vrese het om geteiken en as die sondebok voorgehou te word.

“Die regering het reeds jare lank die boere van die land die rug toegekeer en hom blind gehou vir die uitermatige geweld wat boere in die vorm van wreedaardige plaasaanvalle en -moorde raak. Die regering het ook nog nooit dreunsange soos ‘Kill the Boer’ wat boere teiken, veroordeel nie. Dit moet verander en die huidige krisis is die ideale geleentheid daarvoor,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings