|

AfriForum lê klag by PanSAT oor opdrag dat Noord-Kaapse SAPD-lede verklarings slegs in Engels moet afneem

AfriForum het vandag ’n klag van ernstige taal- en menseregteskending by die Noord-Kaapse kantoor van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) gelê nadat ’n skrywe van die Noord-Kaapse adjunk- provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), generaal-majoor L. Ngubelanga, aan die lig gekom het. Daarin word opdrag gegee dat alle verklarings met onmiddellike ingang slegs in Engels afgeneem mag word en alle ander kommunikasie van die SAPD in dié provinsie slegs in Engels mag wees.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die mees ironiese deel van die skrywe dat die adjunk- provinsiale kommissaris uit die Grondwet aanhaal om die opdrag te motiveer. Daar word ook na ’n soortgelyke opdrag van 2016 verwys wat in 2017 teruggetrek is nadat Solidariteit regsaksie daarteen geneem het.

“Die adjunk- provinsiale kommissaris dra duidelik nie kennis van die skikking wat in 2017 in die Noord-Kaapse hooggeregshof bereik is, of van die betekenis van die gedeelte van die Grondwet wat aangehaal word en die reg om meer tale te gebruik, beklemtoon nie,” sê sy.

Tydens ’n konferensie oor linguistiese menseregte wat PanSAT op 12 Maart 2025 by die Universiteit van die Witwatersrand aangebied het en waar AfriForum verteenwoordig was, is juis verwys na verskeie gevalle waar die afneem van verklarings in Engels deur SAPD-lede wie se moedertaal nie Engels is nie, al tot die verdraaiing van feite en regsverydeling gelei het.

“Generaal-majoor Ngubelanga gee opdrag dat die SAPD-lede self vertaling en tolking moet hanteer, en ontken daarmee dat dit gespesialiseerde funksies is wat deur professioneel opgeleide persone hanteer moet word. Nie alleen is dit onregverdig teenoor die persoon wat die verklaring moet afneem of moet kommunikeer met die publiek nie, maar veral ook teenoor die lid van die publiek wat moontlik getraumatiseer is en menswaardige behandeling en toegang tot ’n regverdige ondersoek moet hê. Die eerste prys is dat ’n SAPD-lid die lid van die publiek in sy of haar eie taal bedien, maar as daar nie iemand by ’n stasie is wat dit kan doen nie, om van ’n professionele vertaler of tolk gebruik te maak,” verduidelik Bailey.

AfriForum sal, benewens die klag by PanSAT, saam met organisasies wat Solidariteit en die Kaapse Forum insluit, ook verdere regsaksie ondersoek.

Soortgelyke plasings