Riool
| |

Munisipaliteit spoedig op toneel ná AfriForum se versoek om rioollekkasie in Marble Hall te herstel

Die Ephraim Mogale Plaaslike Munisipaliteit het blitsig op AfriForum se versoek gereageer om dringend by die voortdurende rioollekkasies in Marble Hall in te gryp.

AfriForum se Marble Hall-tak het op 12 Maart kort voor 13:00 ’n aanmaningsbrief aan die Ephraim Mogale-munisipaliteit gestuur. In die brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om die probleem met die riool wat in die strate afvloei, spoedig uit te sorteer. Buiten dat dit heeltemal onaanvaarbaar is, hou lekkasies soos dié ernstige gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap in, lui die brief.

Skuins ná 15:00 dieselfde dag was ’n span kontrakteurs van die munisipaliteit op die toneel om die rioollekkasie te herstel.

“Ons kan nie bloot terugsit en toekyk hoe mense onder hierdie omstandige leef nie. Dit was nodig dat AfriForum druk op die munisipaliteit toepas om uiteindelik die probleem op te los. AfriForum bedank die Ephraim Mogale Plaaslike Munisipaliteit vir hul spoedige reaksie ná sy versoek om dringend daaraan aandag te gee. Samewerking soos dié is wat die dorp én die gemeenskap nodig het vir ’n gesonde omgewing,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

AfriForum beskou rioolstorting- en lekkasies in ’n baie ernstige lig en is reeds in ’n regsgeding aangaande rioolprobleme in Marble Hall wat nie opgelos word nie.

AfriForum se Marble Hall-tak wil ’n verskil maak en moedig die gemeenskap aan om enige probleme by die munisipaliteit aan te meld. Indien daar geen reaksie van die munisipaliteit af is nie, kan hulle die AfriForum-tak daarvan in kennis stel.

Neem deel aan die organisasie se toekomstige projekte en aksies deur betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings