|

Laerskool Silwerrand hoor: Moenie stilbly oor boeliegedrag nie

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Februarie by Laerskool Silwerrand in Rustenburg besoek afgelê en ongeveer 413 leerders toegespreek oor afknouery in skole. Die teenboelieveldtog het ten doel om leerders bewus te maak van boeliegedrag en die gevolge daarvan.

Tydens hierdie gesprek het die leerders gehoor dat groepsdruk ’n wesenlik rol speel in boeliegedrag – aangesien kinders óf aktief aan boeliegedrag deelneem omdat hulle vriende dit doen óf hulle bly stil oor boeliegedrag wat dit dan net vererger. Positiewe groepsdruk kan egter boeliegedrag ontmoedig. Leerders kan weerstand bied teen slegte groepsdruk en ’n veiliger skoolomgewing vir alle leerders skep deur hul selfvertroue en onafhanklike, kritiese denke te ontwikkel.

“Die inligting wat AfriForum se teenboeliespan gedeel het, was nie net leersaam nie, maar het ook praktiese riglyne gegee oor hoe om boeliegedrag te hanteer en voorkom. Ons waardeer julle betrokkenheid by die gemeenskap en julle toewyding om ’n veilige en ondersteunende omgewing vir kinders te help skep,” sê Marliz du Toit, grondslagfasehoof by Laerskool Silwerrand.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat die volle wapenrusting van God as grondslag gebruik, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboeliepraatjies.

Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

Soortgelyke plasings