|

AfriForum en Kukhona Group skenk 2 000 liter water aan Bethal-kleuterskool

AfriForum se Bethal-tak en Kukhona Group het op 14 Februarie saamgespan om 2 000 liter water aan Wonderland Kleuterskool te lewer.

Kukhona Groep het AfriForum om hulp genader. Hulle het ’n voertuig en watertenk beskikbaar gestel, terwyl AfriForum met ’n plaaslike boer geskakel het om die tenk met water te vul. AfriForum het ook gehelp om die watertenk by die kleuterskool af te laai.

Bethal is al sinoniem aan waterprobleme en was van 12 Februarie vir bykans ’n week alweer waterloos. Dit is al die tweede keer dié jaar dat inwoners sonder water moes klaarkom. As gevolg van onderbrekings op Rand Water en Eskom se infrastruktuur was inwoners vir meer as 72 uur sonder water. Noodwaterpunte het weereens tot die dorpenaars se redding gekom, terwyl sommige inwoners deesdae watervoorraad vir noodgevalle aanhou of alreeds watertenks in hulle erwe aangebring het. Teen 17 Februarie was daar weer water in Bethal se krane.

“Hierdie is net een van die vele maniere waarop ondernemings en organisasies hande vat om ’n verskil te maak. Ons sal nie toelaat dat die onderbrekings ons onderkry nie en sal aanhou planne beraam om die gemeenskap te help,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Sluit aan by AfriForum se Bethal-tak om met hul werksaamhede te help: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings