Moenie SA tot in armoede belas nie, waarsku AfriForum voor begrotingsrede

Die inwoners van Suid-Afrika is veel meer verantwoordelik met hul eie geld as wat die regering daarmee is, daarom meen AfriForum behoort belastingbesnoeiings vandag, as deel van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede voorgelê word. Ekonomiese groei was boonop die afgelope paar jaar laer as inflasie – en dit plaas reeds ernstige finansiële druk op huisgesinne wat deur ’n verhoging in belasting net verdere sal verarm.

AfriForum dring meer spesifiek daarop aan dat belastingkerwe en belastingkrediete (soos die belastingkrediet op mediese fondse) ooreenkomstig inflasie aangepas moet word, anders word belastingbetalers indirek beroof van hul regmatige terugbetalings. Dit is verder nodig dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) en brandstofheffings onveranderd gelaat word.

“Ons lede – en alle belastingbetalers – is in die knyp. Dis nou noodsaaklik om polities ongewilde besluite te neem ter wille van ekonomiese groei en welstand,” benadruk Boshoff.

Hy hou voorts vol dat president Cyril Ramaphosa verskeie onhaalbare beloftes tydens sy afgelope staatsrede gemaak het en daar nie nou gepoog moet word om alles met belastingverhogings te probeer finansier nie.

Soortgelyke plasings