Marble Hall-skole leer om boeliebestand te wees
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 17 en 22 Julie onderskeidelik by die CVO Marmer-skool en Laerskool Marble Hall in Limpopo besoek afgelê en meer as 600 leerders met hul praatjie bereik. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.
AfriForum bemagtig skole landwyd met die Teenboelieveldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.
“Bewusmaking van boeliegedrag in skole is van kardinale belang en kinders moet besef dat hierdie tipe gedrag ’n negatiewe impak op hul maats kan hê,” meen Hannelie Költzow, finansiële administrateur by die CVO Marmer-skool. Dit skakel in by die AfriForum-teenboelieveldtog se leuse: Behandel ander soos jy graag behandel wil word.
Daar is verskeie redes waarom kinders boeliegedrag toon. Volgens ’n akademiese artikel, Why do children bully? in die joernaal School Leadership Today Vol 6.5 bevind navorsers dat boelies dikwels in isolasie verkeer as gevolg van ’n gebrek aan empatie en betrokkenheid by misdaad. Die mees algemene redes is: Kinders wil populêr onder hul kultuurgroep wees; kinders boelie omdat hulle aanvaarding soek by kinders wat sosiale mag het – dit gee hulle ’n gevoel dat hulle iewers behoort en hulle mag voel dat hulle meer beskerm voel teen boeliegedrag; boeliegedrag kan gebruik word om sosiale dominansie te vestig – deur hierdie tipe gedrag kry hulle dan ’n vorm van invloed en mag ten koste van ander; kinders boots die gedrag van volwassenes na, daarom is die gedrag van ouers ook belangrik wat as voorbeeld dien; en realiteitsprogramme op televisie en bekendes op sosiale media, soos “influencers” dien soms nie as rolmodelle nie en hulle gedrag word as vermaak beskou – kinders kan dan self hierdie gedrag toepas en met ander spot om hul portuurgroep te vermaak en sosiale aanvaarding te kry.
“As gevolg van onstabiele en gebroke huisgesinne neig sekere kinders na boeliegedrag as gevolg van die voorbeeld wat primêre versorgers by die huis stel of onbetrokke ouers. Sosiale media wat vrylik beskikbaar is en die groot invloed daarvan op kinders se gedrag, lei ook tot boeliegedrag. Deesdae neem kinders ook boeliery saam met hulle huis toe as gevolg van die gebruik van selfone en ander tegnologie. Dit is belangrik dat skole deurlopend aandag gee aan die belangrikheid van bewusmaking van boeliery. Dit is baie goed dat instansies, wat kundig is op die gebied, skole gereeld besoek,” sê Philip Meyer, skoolhoof van Laerskool Marble Hall.
Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.


