AfriForum se Sasolburg-buurtwag help om dorp te beveilig
Die Sasolburg-buurtwag was baie besig in Mei om die gemeenskap in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te help beveilig. Daar is verskeie operasies saam met die SAPD en ander veiligheidsinstansies gedoen. Tydens die eerste operasie is daar arrestasies gemaak vir die misbruik van alkohol in die openbaar en vir die gebruik van onpadwaardige voertuie. Die buurtwag doen ook saans patrollie by die noodapteek om die personeel veilig te hou omdat daar ’n drinkery in die parkeerarea is.
Soos die gebruik nou al is, het die buurtwag vir twee ure op Sondae diens by die begraafplaas gedoen sodat die gemeenskap in vrede en veiligheid geliefdes se grafte kon besoek. Hierdie diens word baie deur die gemeenskap gewaardeer. Die buurtwag doen Sondae van 11:30 tot 13:30 diens by die begraafplaas.
Die buurtwag was deel van ’n operasie by ’n hoërskool waar daar met die leerders gepraat is oor boeliegedrag, respek, dissipline, dwelmmisbruik en kriminele rekords. Daarna is die skool deursoek en daar is beslag gelê op messe, sigarette en gereedskap om dwelms en dagga mee te rook.
In ’n ander operasie saam met die SAPD is daar arrestasies gemaak vir onder meer dronk bestuur, die besit van gesteelde goedere en gereedskap om by huise in te breek, vir die besit en handel van dwelms en vyf mense is in hegtenis geneem omdat hulle in die openbaar geürineer het.
Daar is ook saam met die SAPD patrollie by die stadion gedoen tydens ’n rugbywedstryd waar kinders in die versoeking kom om drank te misbruik. Twee kinders onder 16 is deur die SAPD opgelaai omdat hulle dronk in die openbaar was.
Tydens die verkiesing het die buurtwag ook ekstra patrollies gedoen. Altesaam 33 lede het daardie dag en deur die nag sewe patrollies gedoen en 1 388 km in 395 ure afgelê.
“Hierdie buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap. Die goeie samewerking met die SAPD en sekuriteitsmaatskappye dra by tot die sukses. Elke inwoner van Sasolburg word aangemoedig om deel te word van die buurtwag,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.
Volgens Johan Potgieter, leier van die Sasolburg-buurtwag, maak die goeie samewerking met die SAPD en die ander veiligheidsrolspelers hulle nóg sterker. “Ons is ’n lekker groot span, maar elke lid maak ’n verskil. Hoe meer lede, hoe ’n groter gebied sal ons teen misdrywe kan beskerm. Baie dankie aan elke rolspeler,” sluit Potgieter af.
Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak. Indien jy graag by die Sasolburg-buurtwag se projekte betrokke wil raak, kontak Potgieter by 082 337 5983.