Sukkelende munisipaliteite laat Jan Burger die prys betaal
Die jongste munisipale oudituitslae skets ’n ontstellende prentjie van plaaslike regering in Suid-Afrika. Slegs twee van Gauteng se 11 munisipaliteite het skoon oudits vir die 2024/25-boekjaar behaal, terwyl die meerderheid steeds gebuk gaan onder swak finansiële bestuur, miljarde rande se onreëlmatige uitgawes en verswakkende dienslewering.
Volgens die Gautengse LUR vir Finansies, Nkululeko Dunga, is hierdie oudituitslae veel meer as bloot syfers op papier. Dit weerspieël die daaglikse werklikheid van gemeenskappe wat sonder betroubare watervoorsiening, behoorlike sanitasie, funksionele infrastruktuur en basiese munisipale dienste moet klaarkom. Intussen het onreëlmatige uitgawes in Gauteng se munisipaliteite tot R45,92 miljard opgehoop, ’n duidelike teken dat aanspreeklikheid en goeie bestuur steeds ontbreek.
Die vraag is nie meer óf daar ’n krisis in plaaslike regering is nie, maar hoe lank inwoners nog die prys vir jare se swak bestuur gaan betaal.
Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake waarsku dat ’n kultuur van strafloosheid in baie munisipaliteite posgevat het. Volgens hom laat die gebrek aan aanspreeklikheid wanbestuur, korrupsie en swak dienslewering voortduur, terwyl gemeenskappe die gevolge daarvan dra.
Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het besluit om ’n gedeelte van Julie se billikedeeltoekenning aan die Stad Johannesburg en nog 69 munisipaliteite tydelik te weerhou weens ernstige finansiële wanbestuur en die versuim om aan die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur te voldoen.
Volgens die Nasionale Tesourie is die stap bedoel om fiskale dissipline af te dwing, onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en vermorste besteding te bekamp en munisipale amptenare aanspreeklik te hou. Die ingryping raak munisipaliteite in al nege provinsies, insluitend Johannesburg, Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Mangaung.
Die Tesourie sê die betrokke munisipaliteite is vooraf skriftelik gewaarsku en het die geleentheid gekry om redes aan te voer waarom hulle toekennings nie weerhou moes word nie. Die maatreël is korrektief en nie strafgerig nie, en betalings sal hervat word sodra die munisipaliteite aan die Tesourie se vereistes voldoen.
Intussen het die Nasionale Tesourie die befondsingsbevriesing vir 42 van die 69 munisipaliteite gedeeltelik of ten volle opgehef nadat hulle aan die gestelde vereistes voldoen het. Tien munisipaliteite ontvang hulle volle toekennings, ter waarde van ongeveer R1,7 miljard, terwyl nog 17 munisipaliteite sowat R2,9 miljard ontvang om uitstaande skuld aan Eskom, waterrade en pensioenfondse te vereffen. Die oorblywende munisipaliteite sal hulle fondse ontvang eers wanneer hulle aan al die Tesourie se voorwaardes voldoen. Hierdie ontwikkeling dui daarop dat die Tesourie se ingryping wel resultate kan oplewer, maar beklemtoon terselfdertyd hoe diep die finansiële krisis in plaaslike regering gewortel is.
Die jongste besluit volg nadat die Ouditeur-generaal weer kommer uitgespreek het oor verswakkende munisipale finansies. Sedert die 2021/22-boekjaar het munisipaliteite R24,12 miljard aan vrugtelose en vermorste uitgawes, R145,21 miljard aan onreëlmatige uitgawes en R118,13 miljard aan ongemagtigde uitgawes aangegaan. Daarbenewens het 116 munisipaliteite onbefondsde begrotings aanvaar, terwyl baie nie hulle skulde aan Eskom en waterrade kan betaal nie.
Die Ouditeur-generaal waarsku dat swak bestuur, gebrekkige aanspreeklikheid en verswakkende finansiële beheer dienslewering toenemend benadeel. Slegs 39 van die land se 257 munisipaliteite het skoon oudits behaal, terwyl die meerderheid steeds sukkel met swak finansiële bestuur en verswakkende infrastruktuur.
Volgens ’n ontleding van Moonstone Information Refinery is byna 79% van die skuld by net tien munisipaliteite gekonsentreer. Matjhabeng is die grootste skuldenaar, met meer as R9,5 miljard wat aan ’n waterraad verskuldig is, terwyl die Stad Johannesburg die grootste skuld aan Eskom het – meer as R3,7 miljard.
Die Tesourie vereis nou dat munisipaliteite hulle onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes verminder, skuldterugbetalingsplanne instel en bewys lewer dat dissiplinêre optrede teen finansiële wanbestuur ingestel is voordat die fondse wat weerhou is, vrygestel sal word.
Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die Tesourie se optrede verwelkom en beklemtoon dat munisipale leiers aanspreeklik gehou moet word vir swak bestuur wat dienslewering en gemeenskappe benadeel.
Die werklike oplossing lê nie daarin om fondse bloot terug te hou nie, maar om munisipale leiers en amptenare wat hulle pligte versaak, konsekwent aanspreeklik te hou. Sonder daadwerklike ingryping, beter bestuur en die politieke wil om wanbestuur uit te roei sal Suid-Afrika se munisipaliteite aanhou om van die een finansiële en diensleweringskrisis na die volgende te beweeg.
Waar die staat faal, word gemeenskappe toenemend gedwing om self verantwoordelikheid vir hulle veiligheid, infrastruktuur en basiese dienste te aanvaar. Dit is nie hoe plaaslike regering veronderstel is om te funksioneer nie, maar totdat aanspreeklikheid die norm eerder as die uitsondering word, sal selfstandigheid vir baie gemeenskappe die enigste volhoubare alternatief bly.
Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad in genderpolitiek (cum laude) aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.



