Die Suid-Afrikaanse regering het hul monopolie om wet en orde te handhaaf, prysgegee
Deur Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum
Die Duitse sosioloog Max Weber het die staat gedefinieer as ’n politieke instelling wat ’n monopolie het op die wettige gebruik van fisieke geweld om wet en orde suksesvol binne ’n gegewe gebied te handhaaf. Hierdie fondasie van ’n geordende samelewing toon ernstige krake in die Suid-Afrikaanse konteks, maar dit word gevul deur ’n verskeidenheid nieregeringselemente.
Die afgelope 30 jaar het ’n ooglopende magsvakuum ontstaan namate die ANC-geleide regering se kapasiteit in vele opsigte agteruitgegaan het. Dit sluit onder meer in swak dienslewering, gebrekkige instandhouding van infrastruktuur, onbetroubare krag- en watervoorsiening, asook onvoldoende misdaadbekamping, ensovoorts.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kan eenvoudig nie meer hul grondwetlike mandaat en primêre funksie doeltreffend uitvoer nie. Luidens ’n oudit wat die DA vanjaar gedoen het, is bevind dat slegs 44% van die 1 025 polisiestasies wie se amptelike telefoonnommers getoets is, hul telefone beantwoord het.
In 2023 het die minister van Polisie bevestig dat meer as 6,3 miljoen oproepe aan die SAPD se 10111-noodsentrums in die voorafgaande drie boekjare onbeantwoord gelaat is. Dit kom neer op meer as 5 700 onbeantwoorde oproepe per dag.
Slegs drie sektore beskik oor die hulpbronne en organisatoriese vermoëns om hierdie vakuum, wat deur die verbrokkelende staat gelaat word, te vul: die privaat sektor, georganiseerde gemeenskappe en georganiseerde misdaad. Dit is dus geen wonder dat al drie tans in Suid-Afrika floreer nie.
Die groei in mag en gesofistikeerdheid van georganiseerde misdaad onder ANC-bewind is goed gedokumenteer. Suid-Afrika beklee tans die sewende plek uit 193 VN-lidlande op die Global Initiative against Transnational Organized Crime se Global Organized Crime Index. In 2026 het president Cyril Ramaphosa verklaar: “Georganiseerde misdaad is nou die mees onmiddellike bedreiging vir ons demokrasie, ons samelewing en ons ekonomiese ontwikkeling.” Vir sommige is die verwronge orde wat georganiseerde misdaad skep in die gemeenskappe waar dit oorheers, die beste en soms enigste beskikbare opsie. Dit vind gewoonlik plaas deur afpersingsgeld te eis vir beskerming, wat dikwels verkies word bo die totale wetteloosheid en anargie wat staatsverval veroorsaak.
Geen bedryf illustreer die privaat sektor se reaksie op Suid-Afrika se staatsverval beter as die privaat sekuriteitsbedryf nie. Oor die afgelope 30 jaar het hierdie sektor in grootte, innovasie, kompleksiteit en mededingendheid ontwikkel tot een van die mees toonaangewende diensverskaffers van sy soort ter wêreld. Die aantal sekuriteitsbeamptes in dié bedryf het sedert 1997 – toe skaars sowat 115 000 geregistreerde beamptes in die bedryf werksaam was – met meer as 400% groei. Teen die 2024/2025-boekjaar was meer as 637 000 wagte geregistreer en aktief werksaam in die bedryf. ’n Toename van meer as 110% in die aantal geregistreerde sekuriteitsmaatskappye is ook sedert die 2013/2014-boekjaar aangeteken. In hierdie stadium is daar byna twee keer meer privaat sekuriteitspersoneel in Suid-Afrika is as die gesamentlike aantal polisie- en weermaglede.
Suid-Afrika se polisiëringskapasiteit het so drasties afgeneem dat die polisie tydens landwye protesoptogte teen onwettige immigrasie in Junie vanjaar verplig was om die bystand en hulpbronne van privaat sekuriteitsfirmas in te roep om wet en orde te help handhaaf.
Die laaste nieregeringssektor wat in afgelope jare noemenswaardige vordering op die gebied van die handhawing van wet en orde gemaak het, is gemeenskapsveiligheidstrukture. Die burgerregteorganisasie AfriForum het sedert 2012 reeds 177 buurt- en plaaswagte op die been gebring wat elke maand duisende kilometers se patrollies – op eie koste en risiko – aflê, en byna weekliks merkwaardige suksesse behaal. ’n Onlangse voorbeeld is toe AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag ’n kritieke rol gespeel het om twee ontvoeringslagoffers binne 98 minute te red en die verdagtes vas te trek.
AfriForum het landwyd ook al meer as 500 protospanlede opgelei in taktiese landelike veiligheidsreaksie, gekoördineerde reaksies op georganiseerde gewelddadige aanvalle, waarnemingstegnieke, radiokommunikasie, misdaadtoneelhantering en noodprosedures.
Daarby het moderne tegnologie ’n ongelooflike magsvermenigvuldiger geword om misdaad te bekamp. AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture besit reeds 48 hommeltuie, benut honderde sekuriteitskameras en bestuur een van die grootste onafhanklike radionetwerke in die land. Weens die ooglopende feit dat polisiekapasiteit verswak het, veral in landelike gebiede, kan die afname in plaasmoorde in onlangse jare nie aan regeringsaksies toegeskryf word nie. Hierdie afname is hoofsaaklik te danke aan beter plaasveiligheid en die groei en verbetering van privaat- en gemeenskapsgebaseerde veiligheidstrukture in landelike gebiede.
Voormelde feite staaf dus die gevolgtrekking dat die Suid-Afrikaanse regering nie meer ’n monopolie op die wettige gebruik van fisieke geweld het om wet en orde te handhaaf nie. Oor die afgelope 30 jaar het die ANC-regering homself effektief afgegradeer en is nou net een vennoot van vele in ’n veelparty-sekuriteitsomgewing wat die stryd teen misdaad pak.
In ’n land met een van die grootste en mees mededingende privaatsekuriteitsektore en een van die vinnigste groeiende gemeenskapsveiligheidsfere ter wêreld, het die regering – wanneer dit kom by die stryd teen misdaad – vir die afsienbare toekoms net twee opsies tot hul beskikking: werk saam of sukkel alleen.



