AfriForum se MidWit-buurtspan laat slaggate behoorlik les opsê in Middelburg en eMalahleni
AfriForum se MidWit-buurtspan het in Junie slaggate behoorlik laat les opsê toe dit binne net een maand nagenoeg 12 ton asfalt ingespan het om slaggate in Middelburg en eMalahleni (Witbank) te herstel.



Harde werk lewer resultate in eMalahleni
Die MidWit-buurtspan – met sy span voltydse werkers wat hulle toespits op uiteenlopende herstel- en opknappingsprojekte – het in Junie hande gevat met die Heritage of Faith Ministries International-gemeente in eMalahleni en Duikerstraat in Reynorif herstel.
AfriForum se Secunda Teks- en Bethal-buurtspanne het ook ingespring om korte mette te maak van die haglike toestand van dié belangrike deurpad. Die spanne het binne drie dae 290 sakkies (7,25 ton) asfalt gebruik om slaggate hier te herstel, terwyl die verweerde padmerkers op spoedhobbels in dié straat as deel van die projek oorgeverf is. Die gras, op die hoek van Duikerstraat en Hans Strydomlaan, is ook as deel van hierdie opknappingsprojek gesny.
Benewens die Duikerstraat-projek, het AfriForum se MidWit-buurtspan in Junie ook verskeie skoonmaakprojekte aangepak in verskeie strate in Reyno Ridge en Ben Fleur, insluitende Estelle-, Da Vinci-, Stander- en Drurestraat sowel as Margaretha-, Klipspringer- en Aquariuslaan. Hiertydens is meer as 40 sakke vullis opgeruim, terwyl slaggate ook in Rosemeadstraat herstel is.
Intussen het die buurtspan ook ’n slaggatprojek by HTS Witbank in Danie Theron- en Beyersstraat afgeskop. Die herstel van verskeie reuseslaggate in dié strate sal nie net die skool se beeld bevorder nie, maar ook die vloei van verkeer verbeter en veiligheidsrisiko’s hier die hoof bied.
Volgens Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak, moet gemeenskappe nou self die verantwoordelikheid neem en inspring om hul dorpe te red. “Om vir die munisipaliteit te wag, is nie meer ’n oplossing nie. Ons moet dit nou self doen,” verduidelik hy. Hy moedig inwoners aan om as’t ware hul straat, buurt of selfs parke as ’n gemeenskap “aan te neem” en die verantwoordelikheid vir die instandhouding van onder meer die pad, straatligte en parke oor te neem eerder as om op die munisipaliteit te wag en toe te kyk hoe verval oorneem. “Deur finansieel saam te span as ’n groep inwoners in een straat of buurt, sal inwoners met die hulp van AfriForum se buurtspanne kan toesien dat instandhouding deurlopend gedoen word.”
Buurtspan pak rits slaggatprojekte in Middelburg
Die MidWit-buurtspan het in Junie ook verskeie slaggat- en skoonmaakprojekte in Middelburg aangepak. Slaggate is in onder meer Blackmoore-, Watt-, Mega-, Beyers Naude-, Elektra- en Kwartsstraat sowel as Pongolarylaan, Koperlaan en Tillietsingel herstel, terwyl die span skoonmaakaksies by die groenstrook in Verdoornstraat sowel as Vos- en Meyerstraat aangepak is. Tydens hierdie skoonmaakprojekte is nagenoeg 230 sakke vullis verwyder.
’n Groot herstelprojek is voorts ook in Jakarandastraat en by die ingang van Hoërskool Kanonkop aangepak nadat ’n waterlek ernstige skade aan die pad veroorsaak het en verskeie slaggate tot gevolg gehad het. Ná die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit versuim het om die waterlek spoedig te herstel en later – weens ’n beweerde tekort in die begroting – nie die slaggate herstel het nie, het AfriForum besluit om in te gryp en die slaggate self te herstel.
Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak, meen die span se werk lewer reeds merkbare resultate. “Middelburg is die juweel van Mpumalanga, maar gaan tog gebuk onder talle probleme. Die AfriForum-buurtspan het egter in Junie skouer aan die wiel gesit en ongelooflike vordering gemaak om dié dorp op te knap en ondanks die verval knap resultate te lewer.”
Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap. Sluit aan by AfriForum en ondersteun die werk wat die MidWit-buurtspan doen. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



