|

Krugerwildtuin-mynsage duur voort: Eerste openbare vergadering gehou vir “nuwe” aansoek met dieselfde rolspelers

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)

Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)


Die volgende hoofstuk in die uitgerekte Krugerwildtuin-mynsage is Vrydag voortgesit in Marlothpark toe AfriForum, gemeenskapslede en belanghebbendes byeengekom het vir ’n openbare deelnamevergadering as deel van ’n nuwe aansoekproses vir die oprigting van ’n myn op die wildtuin se voorstoep.

AfriForum beveg reeds sedert 2019 die beoogde planne vir die oprigting van ’n steenkoolmyn net suid van die wildtuin. Sedertdien is die aansoek om steenkool in die gebied te ontgin, verskeie kere onttrek en van nuuts af begin onder ’n nuwe maatskappynaam. Die jongste aansoek is Februarie vanjaar gebring met Tenbosch Mining en die omgewingskonsultant Kimopax, wat die vorige aansoek aangevoer het, as rolspelers.  

Die aansoek is gebring vir die oprigting van ’n ondergrondse steenkoolmyn met aansienlike bogrondse infrastruktuur, insluitend ’n verwerkingsaanleg, voorraadstapels, stortingsterreine, ’n slykbergingsfasiliteit, besoedelingsbeheerdamme en gepaardgaande waterbehandelingfasiliteite, sowel as kragvoorsiening- en padinfrastruktuur. Die gebied wat vir die myn geoormerk is, beslaan nagenoeg 5 500 ha en is geleë naby die suidelike grens van die Krugerwildtuin. In dié gebied word sterk gesteun op toerisme, landbou en ekologiese integriteit vir die gemeenskap se lewensonderhoud en die gebied se langtermyn- ekonomiese stabiliteit.

Gemeenskapslede tydens die eerste openbare vergadering wat op 13 Maart gehou is.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, wat die vergadering bygewoon het, is ernstige prosedurele mislukkings, onwettige gedrag en ’n gebrek aan deursigtigheid in die vorige aansoekproses blootgelê. Aangesien dieselfde maatskappye nou weer by die nuwe aansoek betrokke is, is daar rede om ook dié proses met valkoë dop te hou en die belang van die gemeenskap en die omgewing te prioritiseer, meen De Klerk.

Tydens die vergadering is onder meer gewys op die risiko’s van watersekerheid en besoedeling; die nabyheid aan die Krugerwildtuin en die kumulatiewe impak van mynbou op dié bewaringsgebied; en die gebied se landbouwaarde.

Volgens De Klerk is die aansoek tans in sy verkennendeverslagfase en moet verskeie spesialisstudies nog onderneem en deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Engergie (DMHE) goedgekeur word voordat daar na die volgende fase oorgegaan kan word.

“Ons boodskap bly steeds dat geen myn in hierdie soort gebiede ontwikkel mag word nie. Hierdie streek se toekoms hang af van die beskerming van die natuurlike bates wat dit onderhou,” beklemtoon De Klerk.

AfriForum moedig ook gemeenskapslede aan om as belanghebbende en geaffekteerde partye te registreer, skriftelike kommentaar betyds in te dien en om rekords van alle korrespondensie en voorleggings te hou.

Agtergrond van AfriForum se betrokkenheid by die stryd téén die beoogde myn

AfriForum beveg reeds sedert 2019 die beoogde planne vir die oprigting van ’n steenkoolmyn net suid van die wildtuin. Sedertdien het is die aansoek om steenkool in die gebied te ontgin, verskeie kere onttrek en van nuuts af begin onder ’n nuwe maatskappynaam.

Die aansoek is oorspronklik ingedien deur Manzolwandle Investments, terwyl Singo Consulting die omgewingsimpakstudie onderneem het. In 2020 het die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie geweier om omgewingsmagtiging vir die projek toe te staan.

’n Jaar later is ’n nuwe aansoek gebring deur Tenbosch Mining, die maatskappy wat Manzolwandle Investments intussen oorgekoop het.

Dié aansoek is teen Oktober 2022 onttrek, maar Tenbosch het in Mei 2023 wéér sy aansoek hervat en Kimopax as omgewingspraktisyn aangestel. Ná openbare druk en AfriForum se bydrae is hierdie gebrekkige aansoek in Desember 2025 onttrek.

Die onttrekking was egter van korte duur en teen Februarie vanjaar is ’n nuwe aansoek – met Tenbosch Mining en Kimopax as rolspelers – ingebring.  

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik