Voortslepende rioolkrisis in Virginia vereis dringend ingryping – AfriForum
AfriForum het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit versoek om in die volgende week met ’n werkbare oplossing vorendag te kom om te verseker dat die inwoners van Kommandolaan in Virginia nie verder met ’n ondraaglike rioolverstopping hoef saam te leef nie. Die rioolpyplyn in die gebied verstop oor die afgelope drie jaar maandeliks. Hoewel die verstopping gereeld skoongemaak word, verstop die pyplyn nou elke drie dae. Die verstopping veroorsaak dat riool op ’n weeklikse basis in woonhuise en erwe terugstoot.
“Inwoners word aan ondraaglike reuke en wesenlike gesondheidsrisiko’s blootgestel, wat eenvoudig onaanvaarbaar is. Die voortslepende verstoppings maak inbraak op mense se grondwetlike reg op ’n gesonde omgewing, daarom kan die munisipaliteit dit nie verder ignoreer nie,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Volgens munisipale werkers, wat gereeld die verstopping skoonmaak, is die probleem beperk tot die laaste ongeveer drie meter van die pyplyn. Elke keer as die verstopping skoongemaak word, word groot hoeveelhede boomwortels verwyder. Daar is egter herhaaldelik aangedui dat die pyp waarskynlik gebreek, gebuig of inmekaargesak het. Die enigste volhoubare oplossing is om dié gedeelte van die pyplyn oop te grawe en te vervang.
Munisipale amptenare voer aan dat die munisipaliteit nie tans oor die nodige hulpbronne beskik om die deel van die pyplyn te vervang nie. Die pyp is boonop diep ondergronds en vereis gespesialiseerde toerusting vir die herstelwerk. Volgens Tladi Nkhobo van die Matjhabeng-munisipaliteit is die huur van gereedskap en aanstelling van kontrakteurs onderhewig aan die munisipaliteit se finansiële herstelplan.
“Inwoners het al verskeie oplossings aan die munisipaliteit voorgelê, soos om met die Beatrix-myn (Sibanye-Stillwater) in gesprek te tree om moontlike bystand te verleen met die opgrawing en herstelwerk, maar nog geen noemenswaardige oplossing is aan die gemeenskap gekommunikeer nie,” sê Ikking.
AfriForum het in ’n skrywe die munisipaliteit daarop gewys dat dit sy plig is om ingevolge artikel 152 van die Grondwet volhoubare dienste te lewer én ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder. Die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 en die toepaslike omgewingsgesondheidsregulasies plaas verder ’n verantwoordelikheid op plaaslike owerhede om gesondheidsgevare, insluitend rioolstortings, te voorkom.
“Die voortgesette rioolstortings en blootstelling aan rioolgasse skend inwoners se reg op waardigheid, gesondheid en ’n veilige leefomgewing. Daar word formeel versoek dat die munisipaliteit ’n duidelike en uitvoerbare plan van aksie aan die gemeenskap kommunikeer, insluitend tydraamwerke vir permanente herstelwerk en terugvoer oor moontlike samewerking met Beatrix-myn,” sê Ikking.
AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om dié omgewings- en gesondheidskwessie so gou moontlik die hoof te bied.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum betrokke te raak.



