AfriForum nader hof oor moontlike verkope van Naval Hill en ander terreine in Bloemfontein
Die geskiedkundige Naval Hill-terrein en die nuwe Tempe-lughawe in Bloemfontein kan moontlik eersdaags verkwansel word as die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit sy sin kry. Die vervreemding van dié en ander munisipale eiendom, waarvan sommige belangrike historiese waarde het, is volgens AfriForum rede tot kommer. Die organisasie voer ook aan dat die prosesse hiervoor nie korrek gevolg is nie.
AfriForum het daarom gister ’n hofaansoek ingedien om te verseker dat die proses gestaak word en die Mangaung-metro sy wetlike verpligtinge ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) 3 van 2000 nakom.
Kennisgewings is verlede jaar in twee publikasie geplaas om die publiek van die voorgestelde verkope of verhuring van meer as 150 eiendomme in en om Bloemfontein in kennis te stel. Geen verduideliking vir dié besluit is egter gegee nie. AfriForum het vandeesweek die hof genader om die metro onder meer te dwing om redes vir die verkope of verhuring te gee aangesien die metro doof was vir alle navrae tot dusver hieroor gerig is.
“Dit is nie uit die kennisgewing duidelik wat met die eiendomme beplan word nie. Wil die metro die eiendomme verkoop of uithuur en indien wel, vir hoe lank? Hierdie eiendomme behoort aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wil verhandel nie. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat strategiese en historiese grondgebied, soos die nuwe Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
Historiese baken in gedrang
Onder die rits terreine wat die metro moontlik wil verhuur of verkoop, is Naval Hill waarskynlik die terrein van grootste historiese belang vir die stad. Dié terrein is volgens die metro se kennisgewing nou geoormerk vir die ontwikkeling van ’n pretpark of sogenaamde “bewaringseiendom”.
Dié heuwel in die hartjie van die stad het in Bloemfontein se vroeë jare as Bloemfonteinberg, Tafelkop en selfs Platberg bekendgestaan. Die naam is in die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) verander ná lord Roberts in 1900 ’n Britse vlootbrigade met ’n paar skeepskanonne op dié kop geposisioneer het. Die naam Naval Hill is ná die oorlog behou en in 1928 is die Franklin-natuurreservaat, ’n miniwildreservaat, op die kop uitgelê.
Aan die oostelike hang van die heuwel is ’n klipstapel van witgekalkte klippe in die vorm van ’n perd, uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog, vandag nog sigbaar. Die Witperd-kilpstapel is deur die Wiltshire-regiment uitgelê en het gedien as baken vir Britse soldate wat terugkeer uit die veld. Die stapel is ’n replika van ’n soortgelyke perd teen die hang van ’n heuwel in die Wiltshire-graafskap in die suidweste van Engeland.
Benewens die terrein se verbintenis met die Anglo-Boereoorlog, is Naval Hill ook die tuiste van die Naval Hill-planetarium wat op die kruin van die heuwel staan. Die oorspronklike gebou is in 1927 ingerig om die Lamont-Hussey-sterrewag van die Universiteit van Michigan, te huisves om tweelingsterre waar te neem. Waarnemings is egter in 1972 gestaak. Dit is daarna as ’n kultuursentrum en teater gebruik voordat dit in 2013 in ’n planetarium omskep is.


’n Lughawe, kragsentrale en “ANC-geboorteplek” dalk binnekort verkoop
Benewens Naval Hill, blyk dit dat die Mangaung-metro verskeie ander terreine van die hand wil sit of minstens as deel van ’n langtermynhuurooreenkoms in ander hande wil plaas. Van die terreine wat gelys is, sluit in:
- die nuwe Tempe-lughawe wat vir landgoedontwikkeling aangebied word;
- ’n stuk grond wat volgens die openbare waardasielys aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) behoort;
- die Waaihoek-distrik (onder meer waar die ANC in 1912 tot stand gekom het) wat vir restourasie en vir filmproduksiedoeleindes aangebied word; en
- die ou Bloemfontein-kragsentrale (sonder die koeltorings) wat vir moontlike hergebruik gelys is.

AfriForum tree op
Kragtens die MFMA mag geen grond vervreem word as dit gebruik word om enige dienste aan die publiek te verskaf nie. Dit mag voorts ook nie vir blote kommersiële redes onder die huidige markwaarde verkoop word nie.
Volgens Groenewald het verskeie pogings om met die metro in gesprek te tree en duidelikheid oor die proses te verkry tot dusver geen resultate opgelewer nie.
Hy meen die metro maak hom skuldig aan ondeursigtigheid. “Ons het, ná ons van die kennisgewing te hore gekom het, probeer om inligting deur die Mangaung-metro se amptelike webwerf te bekom, maar daar verskyn geen inligting nie. Die kennisgewing is wel, in Afrikaans en Engels, op sosiale media geplaas met ’n nommer en e-posadres waarheen navrae gerig kan word. Verskeie oproepe en e-posse is egter onbeantwoord gelaat. Ons wil weet wat presies beplan word, en waarvoor die geld aangewend gaan word wat uit die verkope en verhuring van die eiendomme, geïn gaan word. Die onduidelikheid laat ons met geen ander keuse as om die saak deur die howe te laat beslis nie,” sluit Groenewald af.



