|

AfriForum Jeug omskep vonke in vlamme in jong leiers

’n Totaal van 18 jeugleiers van Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Eldoraigne en die Christelik-Volkseie Onderwys Skool (CVO) Pretoria het gister (Dinsdag 10 Maart) by Akademia se Leribakampus in Centurion byeengekom vir AfriForum Jeug se Toekomsskeppers-geleentheid. Dié inisiatief fokus op die ontwikkeling van hoërskoolleiers en het ten doel om leiers met vaardighede toe te rus vir hul huidige én toekomstige leiersposisies.

“Vanjaar se Toekomsskeppers-tema is ‘Vonk voort’. Die gedagte is om die vonk wat in elkeen van die leerders is, te laat vlamvat sodat hulle beter leiers kan wees – nie net by hul skole nie, maar ook in die breër gemeenskap,” verduidelik Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum.

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het aan dié jong leiers ’n blik gegee op die geskiedenis van die Afrikaner en klem geplaas op hoe dié kultuurgemeenskap in die verlede moeilike omstandighede oorkom het en vooruitgang gemaak het. Hy het ook verduidelik hoe die Solidariteit Beweging, met sy onderskeie instellings, die pad na ’n vry en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika baan.

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging

Human se boodskap het leiers duidelik geïnspireer. “Ek het vandag gesien hoe ’n positiewe ingesteldheid jou kan help om meer suksesvol te wees. Ek het ook opnuut besef dat elkeen van ons moet probeer om ’n verskil te maak. Daarom moet ons deelneem en ’n bydrae lewer. Ons voorouers het hard gewerk om ’n toekoms vir ons te skep en alhoewel ons land probleme het, is groter uitdagings al in die verlede oorkom. As hulle dit kon doen, kan ons dit ook doen,” sê Ilze van der Westhuizen, ’n matriekleerder verbonde aan Hoërskool Zwartkop.

Nicole Froneman, ’n matriekleerder van Hoërskool Eldoraigne, sê sy het geleer dat sy net haar eie, unieke self hoef te wees en daardeur ander kan inspireer. “Ek wil graag ’n toekoms in Suid-Afrika bou, want ons het só ’n mooi land en dit is waar ek eendag my kinders wil grootmaak. Ek weet God het ’n plan en ons moet net aanhou bid vir ons land.”

Volgens Dawid Roets, ’n matrikulant van die CVO Pretoria, het hy en ander Afrikaners ’n verantwoordelikheid. “Afrikaners het ’n belangrike rol om in Suid-Afrika te speel en ’n lig van Christenskap hier en in die buiteland te wees. Afrikaners voel dalk onder druk, maar ons moet saamstaan en deur instansies, soos AfriForum en Solidariteit, kan ons die land ’n beter plek vir ons en ander volke maak.”

“AfriForum Jeug glo dat die ontwikkeling van jong leiers ’n sleutelrol speel in die bou van sterker gemeenskappe en ’n beter toekoms. Om in jong mense te belê en hulle met praktiese vaardighede en leiding toe te rus, word hulle aangemoedig om verantwoordelike en beginselvaste leiers te wees wat ’n verskil maak, waar hulle ook al gaan,” sluit Gerber af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners