AfriForum eis ingryping by onwettige aktiwiteite langs ouetehuis in Sasolburg
AfriForum doen ’n beroep op die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit om dringend op te tree teen die ernstige en onwettige bou- en besettingsaktiwiteite op ’n eiendom in Finlaystraat, Sasolburg, aangrensend die Van Riebeeck-ouetehuis.
Luidens ’n brief wat AfriForum op 22 Januarie aan die munisipaliteit gestuur het, het die organisasie inligting van plaaslike inwoners ontvang dat Finlaystraat 10 onregmatig deur individue, wat onwettige strukture oprig sonder enige goedgekeurde bouplanne of wettige okkupasiereg, beset word. Daar is ook ernstige bewerings dat water- en elektrisiteitsverbindings onwettig vanaf naburige eiendomme getap en gesteel word.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, sê die situasie hou ’n onmiddellike risiko in vir die veiligheid en gesondheid van inwoners, veral die bejaardes by die aangrensende ouetehuis. Onwettige elektrisiteitsverbindings skep ’n ernstige brand- en veiligheidsgevaar, terwyl die onbeheerste gebruik van munisipale dienste die infrastruktuur verder onder druk plaas.
AfriForum waarsku dat die munisipaliteit ’n grondwetlike en statutêre plig het om inwoners te beskerm en wetstoepassing te verseker. Die voortgesette versuim om op te tree kan neerkom op ’n verbreking van onder meer die Grondwet, die Munisipale Stelselswet, die Wet op die voorkoming van onwettige uitsetting en onregmatige besetting van grond, asook wetgewing wat die onwettige gebruik van water en elektrisiteit verbied.
In die brief eis AfriForum dat die Metsimaholo-munisipaliteit onmiddellik ondersoek instel na die onwettighede op die eiendom, alle onwettige en gevaarlike diensverbindings beëindig, toepaslike afdwingings- en uitsettingsprosesse instel en binne sewe dae skriftelike terugvoer oor die stappe wat geneem is, aan die organisasie verskaf.
Volgens Braam Muller, die voorsitter van Sasolburg se AfriForum-tak, sal die Metsimaholo-munisipaliteit daadwerklik moet begin tande wys teen onwettige bouery in Sasolburg. “Afgesien van die feit dat dit onwettig is, kan die dorp se infrastruktuur ook nie die ekstra las dra nie,” sluit Muller af.
AfriForum beklemtoon dat gemeenskappe nie die prys mag betaal vir munisipale traagheid en wanbestuur nie. Sou die munisipaliteit versuim om dringend en doeltreffend op te tree, sal AfriForum alle verdere regs-, regulatoriese en openbare opsies oorweeg om die veiligheid en regte van inwoners te beskerm.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak Muller by 076 125 7773.





