|

Familie van vermoorde Brakpan-man eis geregtigheid ná onthullings by Madlanga-kommissie oor marteling

Ná langer as drie jaar se gepleit by owerhede vir antwoorde, het die familie van Emmanuel Mbense (52), ’n pa van vyf wat na bewering deur wetstoepassers en private sekuriteitsbeamptes gemartel en vermoor is voordat sy liggaam in ’n dam gestort is, hulle tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir geregtigheid gewend. Die familie het die ontstellende besonderhede van Mbense se dood vir die eerste keer gehoor toe Marius van der Merwe, ook bekend as Getuie D, voor die Madlanga-kommissie getuig en erken het dat hy aan die marteling deelgeneem het in ’n poging om die gereg te dwarsboom. Op die oggend van Van der Merwe se geskeduleerde getuienis het ’n ondersoeker van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) die familie gemaan dat besonderhede oor Mbense se dood na vore sou kom.

Mbense is op 15 April 2022 in sy huis in Brakpan vermoor. Sy liggaam is die volgende dag by die Duduza-dam in Nigel ontdek, met die sleutels na sy motor en sy bestuurslisensie nog in sy sak. Die eenheid het die doodsertifikaat onder oë gehad, wat aandui dat die oorsaak van sy dood stompgeweldtrauma aan sy kop was.

Mbense se broer, Nhlanhla (Engels)

“Vir ’n lang tyd het ons met onbeantwoorde vrae saamgeleef, sonder om te weet hoe hy gesterf het, wat presies gebeur het,” sê Mbense se broer, Nhlanhla, wat, gegewe die omstandighede, gevra het om nie met sy volle naam geïdentifiseer te word nie. “Die waarheid is eers geopenbaar toe die kommissie begin het. Dit het ons gedwing om die gruwel van sy laaste oomblikke in die openbaar te herleef, omring deur vreemdelinge. En om sulke verpletterende nuus terselfdertyd saam met almal anders te ontvang, was erg. Dit het enige kans van ons weggeneem om onsself emosioneel voor te berei. Ons is opnuut getraumatiseer soos die besonderhede uitkom.”

Nhlanhla en sy familie het op 18 November 2025 met die eenheid gekonsulteer, vier dae nadat Van der Merwe voor die Madlanga-kommissie getuig het. Vir drie jaar het Mbense se broer herhaaldelik die SAPD en Opod genader vir opdaterings oor die saak, net om meegedeel te word dat alles goed gaan en dat inhegtenisnemings op hande is. Gister, binne ure nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan Jennifer Ntlatseng, hoof van Opod, geskryf het, het ’n ondersoeker Nhlanhla gebel om hom, soos voorheen, te vertel dat die ondersoek byna voltooi is en dat inhegtenisnemings binnekort sal volg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê in die brief aan Ntlatseng dat Opod se gedrag daarop dui dat die betrokke partye beskerm word teen ondersoeke en vervolging. “Ons skryf hierdie brief op ’n tydstip wanneer dit blyk dat byna alle wetstoepassingsagentskappe se beweerde vlakke van onbevoegdheid en kriminele gedrag nie meer geheim gehou kan word nie.

“Ons beskou dit as ’n strategie om die omvang van kriminele aktiwiteite waarby lede van wetstoepassingsagentskappe betrokke is, sowel as die skynbare ondoeltreffendheid, indien nie medepligtigheid nie, van die agentskappe wat gestig is om kriminele aktiwiteite binne wetstoepassingstrukture te bestry, van die publiek te verberg.

“Die voortgesette kommissies van ondersoek en die parlement se ad hoc-komitee het ongetwyfeld blootgelê hoe strukture in die strafregstelsel nie daarin slaag om objektiewe misdaadondersoeke en vervolgings uit te voer nie én dat die enigste waarborg is dat die verdagtes veilige skuiling gevind het binne onbekwame wetstoepassingsagentskappe,” sê Nel.

Volgens Nel het die onlangse verwikkelinge die kollig geplaas op die versuim om Mbense se saak vinnig af te handel. “Ná die oënskynlike sluipmoord op Van der Merwe, wat geen geheim gemaak het van hoe en wie by Mbense se gruwelike moord betrokke was nie, insluitend sy eie betrokkenheid, is die versuim om hierdie ondersoek beslissend te hanteer en dit na jare se ondersoek af te handel, betreurenswaardig en eis dit nou ’n betekenisvolle reaksie op die status van die saak.”

“Die getuienis van die afgetrede adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolitaanse Polisie, Revo Spies, wat getuig het dat Van der Merwe as ’n moontlike getuie geïdentifiseer is ingevolge Artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977, is diep kommerwekkend. Indien dit korrek is, word ’n verduideliking vir die versuim om die verdagtes in hegtenis te neem en die saak aan te meld, meer dringend,” sê Nel.

Mbense se broer, Nhlanhla (Engels)

Nhlanhla het sy broer beskryf as ’n anker in die familie, wat vir sy ma, broers en susters en vyf kinders gesorg het. Hy sê die hantering van die saak het enige vertroue wat hulle in die strafregstelsel gehad het, ondermyn. “Die familie is met geen ander keuse gelaat as om die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in te roep nie. Die besluit is nie ligtelik geneem nie. Dit weerspieël die gevoel van verwerping wat ons as ’n familie ervaar het. Dieselfde instellings wat ons toevertrou het om geregtigheid te soek, het versuim om namens ons op te tree. Dit is ’n direkte gevolg van ons vasberadenheid om daardie aanspreeklikheid te verseker en ons waardigheid te beskerm,” sê Nhlanhla.

Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, sê die doel van die kommissie van ondersoek is om misdadigheid bloot te lê en dat hy hoop dat dit nie in die hande van die misdadigers gespeel het nie.

Barry Bateman (Afrikaans)

“Dit is onduidelik of Van der Merwe genader is en ingestem het om ’n samewerkende getuie te wees met die verstandhouding dat hy kwytgeskel kan word vir sy rol in die moord. Maar die werklikheid is dat óf ’n beskuldigde óf ’n staatsgetuie in die openbaar getuig in ’n forum buite die strafregstelsel. Verder is dit onverklaarbaar dat Van der Merwe en die ander wat hy geïmpliseer het, nie in hegtenis geneem en hof toe gebring is nie, waar hulle om borgtog sou moes aansoek doen om vrygelaat te word. Dit is in daardie forum dat die staat en die howe hul magte kan uitoefen om die veiligheid van getuies te verseker,” sê Bateman.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Opod versoek om dringend te reageer op die versoek om ’n opdatering oor en ’n verduideliking vir die vertraging in die afhandeling van die saak te gee. Die eenheid, wat Mbense se familie verteenwoordig, sal die saak noukeurig monitor om te verseker dat almal, insluitend wetstoepassers, gelyk voor die reg behandel word en aanspreeklik gehou word vir hul misdade.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik