AfriForum oorhandig Malema-dossier aan senior Withuis-amptenare en bespreek ander bedreigings vir menseregte in Suid-Afrika
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag die Withuis besoek om met senior amptenare binne die Trump-administrasie te vergader as deel van ’n opvolg-skakelbesoek aan die VSA, saam met Solidariteit. Werner Human, lid van AfriForum se direksie, het die Malema-dossier, wat AfriForum vroeër vandeesmaand bekendgestel het, aan hierdie amptenare oorhandig. Hierdie omvattende dossier bied die grondslag vir internasionale optrede, soos geteikende sanksies, teen die EFF-leier, Julius Malema, deur sy geskiedenis van aanhitsing tot geweld, beweerde betrokkenheid by korrupsie en sy steun vir terreurgroepe uiteen te sit.
Om Malema se ekstremisme onder die Trump-administrasie se aandag te bring, is deel van ’n groter internasionale veldtog om te verseker dat Malema gevolge dra vir sy aanhitsing tot geweld en ander oortredings waarmee hy tans in Suid-Afrika wegkom. Saam met hierdie veldtog gaan AfriForum ook voort om invloedryke internasionale kontakte in te lig oor die bedreiging van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika, sowel as die plaag van plaasaanvalle en -moorde. Hierdie onderwerpe is ook tydens AfriForum se Withuis-besoek bespreek.
Vroeër vanjaar het die Verenigde Koninkryk Malema se visumaansoek afgekeur op grond van sy ekstremistiese retoriek, soos om te weier om te sê dat hy nooit die slagting van wit mense sal aanhits nie. AfriForum is ook bemoedig deur te sien dat ’n onlangse verslag van die Amerikaanse Staatsdepartement die kollig werp op plaasmoorde en die “Kill the Boer”-dreunsang. Die verslag sit ook verder uiteen hoe die EFF in onlangse jare aanvalle op Afrikanerboere aangemoedig het, die gebruik van die “Kill the Boer”-dreunsang by sy saamtrekke laat herleef het en andersins geweld aangehits het.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sal dié organisasie sy jare lange doel voortsit om te verseker dat Malema nie net plaaslik vervolg word nie, maar dat sy dade ook internasionaal aan die kaak gestel word sodat hy ook in die buiteland die gevolge moet dra.
“Die Trump-administrasie het reeds gewys dat hulle Julius Malema se haatlike, gevaarlike retoriek en gewelddadige dreunsange soos ‘Kill the Boer’ baie kommerwekkend vind. Een van hul eise aan die Suid-Afrikaanse regering, om verhoudings te normaliseer, was om die ‘Kill the Boer’-dreunsang te veroordeel, iets wat die Suid-Afrikaanse regering ongelukkig tot op hierdie stadium geweier het om te doen. AfriForum sal verseker dat hierdie tipe druk toeneem,” sluit Van Zyl af.