|

AfriForum lê klagte oor omstrede Wonderfontein-ontwikkeling by Destea

AfriForum het ’n omvattende klagte aan dr. Mbulelo Nokwequ, hoof van die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), gestuur oor die omstrede ontwikkeling wat tans in die Wonderfontein-gebied net buite Sasolburg plaasvind. Die klagte, wat meer as 100 bladsye beslaan en op 9 September deur AfriForum se regspan ingedien is, sluit die gemeenskap se bekommernisse, bewyse van nalatigheid rakende die ontwikkeling en die regsagtergrond volledig in.

Die klagte is ook aan die direkteur-generaal van die departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye gestuur, met die versoek om dringende ondersoek. Die departemente het tot 29 September om op die klagte te reageer. Indien AfriForum geen terugvoer ontvang nie, sal verdere stappe oorweeg word.

AfriForum het verskeie ernstige onreëlmatighede rakende die ontwikkeling in die klagte uitgelig, waaronder die kwessie dat die projek voortgaan sonder dat die nodige tribunaalvereistes nagekom is. Boonop is daar ’n gebrek aan bulk-infrastruktuur soos stormwaterstelsels, padnetwerke en rioolstelsels. Verder borrel daar groot hoeveelhede grondwater op waar swaar masjinerie gebruik word, wat die ontwikkelaar noop om die water na ’n nabygeleë plaas af te pomp. Die organisasie maak ook melding daarvan dat geen volledige en bygewerkte Omgewingsimpakstudie bekom kon word nie. Die enigste beskikbare dokument dateer uit 2009, toe die ontwikkeling slegs 3 000 erwe behels het – die huidige projek is vergroot na 8 000 erwe, wat nagenoeg 30 000 mense insluit. Terselfdertyd voldoen die Metsimaholo-munisipaliteit se vullisterrein alreeds nie aan die minimum wetlike vereistes nie, terwyl hierdie ontwikkeling net verdere druk op vullisdienste gaan plaas.

Intussen duur AfriForum se hofsaak teen die Metsimaholo-munisipaliteit, die departement van Menslike Nedersetting en die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling voort. Hierdie hofsaak, saam met die nuwe klagte, poog om die projek stop te sit totdat alle wetlike vereistes en vereistes rakende die infrastruktuur nagekom word.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die ontwikkeling nie tot voordeel van die gemeenskap nie en hou dit die potensiaal in om die omgewing onherstelbaar te beskadig. “Die reeds besoedelde Vaalrivier loop die gevaar om verder besoedel te word indien riool en afval nie behoorlik bestuur word nie.”

“Die staat spandeer miljoene aan ’n nuwe dorp, terwyl hulle nie eens die bestaande gemeenskap van Metsimaholo kan diens nie. Dit is ’n resep vir ’n omgewings- én menslike ramp. Ons gaan nie stilsit terwyl onwettige prosesse en swak beplanning die toekoms van die gemeenskap en die omgewing in gevaar stel nie,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum eis dat die betrokke departemente dringend ingryp, dat die ontwikkeling stopgesit word totdat alle vereistes nagekom is en dat nalatige amptenare en ontwikkelaars aanspreeklik gehou word. Die gemeenskap verdien beplanning wat hul veiligheid, gesondheid en welstand beskerm, nie projekte wat net verdere chaos en verval veroorsaak nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf