|

AfriForum eis ingryping by Groblersdal-rioolkrisis

AfriForum se Groblersdal-tak doen ’n beroep op die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit om dringend op te tree teen die voortdurende rioolkrisis in die dorp. Lede van die plaaslike AfriForum-tak het op 29 Augustus die Groblersdal- afvalwatersuiweringswerke besoek as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppel-veldtog. Die doel van dié veldtog is om watermonsters te neem en te laat toets om sodoende die gehalte van drinkwater en behandelde riooluitvloei te bepaal. Tydens hierdie besoek is AfriForum deur werknemers ingelig dat die rioolpompe in die Klipbank-omgewing al vir etlike weke buite werking is, wat veroorsaak dat riool in die stelsel terugstoot en selfs by mangate op die Gromar Landbou Akademie se perseel uitborrel.

Hierdie situasie hou ernstige gesondheidsgevare vir die gemeenskap in en veroorsaak ook wesenlike omgewingskade. Onbehandelde riool vloei in die Olifantsrivier, wat ’n noodsaaklike waterbron vir mense en boerdery in die streek is.

In ’n brief wat AfriForum op 4 September aan die Sekhukhune Distriksmunisipaliteit gerig het, eis AfriForum antwoorde oor die stappe wat geneem word om die Klipbank-rioolpompe te herstel, watter tussentydse maatreëls geïmplementeer word om die voortgesette besoedeling van die Olifantsrivier te voorkom en teen wanneer die Groblersdal-gemeenskap kan verwag dat die pompe herstel sal wees en die waterwerke weer ten volle operasioneel sal wees? Nog geen terugvoer is ontvang nie.

“Ons gemeenskap kan eenvoudig nie langer toekyk hoe infrastruktuur in duie stort en ons gesondheid en die omgewing in gevaar gestel word nie. Die munisipaliteit moet onmiddellik verantwoordelikheid aanvaar en die pompe herstel,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

AfriForum gaan alle beskikbare kanale benut om druk op die owerhede toe te pas en sal nie huiwer om verdere stappe te neem indien die probleem nie spoedig opgelos word nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf