AfriForum aan Schreiber: “Hoe lyk ooreenkoms met Staatsdrukkery?”
AfriForum het vandag ’n brief aan die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, gerig om navraag te doen oor ’n memorandum van verstandhouding wat skynbaar teen Julie vanjaar al aangegaan is tussen die Departement van Vervoer en die Staatsdrukkery, en waarvolgens die Staatsdrukkery op bystand geplaas is om, indien nodig, te help met die druk van bestuurderslisensiekaarte. AfriForum wil nou by Schreiber weet of dié ooreenkoms wel aangegaan is, wat die inhoud van die ooreenkoms is en of die Staatsdrukkery beskik oor die nodige drukker om die kaarte te druk.
Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het op 2 Julie tydens haar departement se begrotingsrede, aangevoer dat haar departement “hard werk om die agterstand in die druk van lisensiekaarte in te haal”. Sy het ook aangevoer dat ’n memorandum van verstandhouding as rugsteunplan met die Staatsdrukkery aangegaan is, en dat die Staatsdrukkery na verwagting binne drie maande gereed sal wees om lisensiekaarte te kan druk.
Teen die middel van Mei vanjaar het die agterstand in die druk van lisensiekaarte op meer as 730 000 te staan gekom nadat die land se enigste lisensiekaartdrukker sedert 1 Januarie vanjaar reeds ongeveer 90 dae lank buite werking was. Drie maande later, teen Augustus vanjaar, het die agterstand nog op meer as 500 000 gestaan.
AfriForum het vroeër reeds sy navraag rakende die memorandum van verstandhouding ook aan die Staatsdrukkery gerig, maar is terugverwys na die Departement van Vervoer. Dié navraag het onbeantwoord gebly.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is daar geen rede vir die oënskynlike geheimsinnigheid oor die ooreenkoms nie.
Hy beklemtoon verder dat die regering nie kan aanhou om die hernuwing van bestuurderslisensies verpligtend te maak, as hulle dit nie ook moontlik maak om die verpligting na te kom nie. “Die geskiedenis leer ons dat burgerlike nienakoming intree wanneer daar onredelike verpligtinge deur die regering opgelê word. Kyk maar net wat het gebeur met e-tol en TV-lisensies,” sluit hy af.