ligte, elektrisiteit
|

Abaqulusi-munisipaliteit “verras” met verhoogde tariewe; AfriForum vra ministers en NERSA om in te gryp

AfriForum doen ’n beroep op die ministers van Finansies en Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), asook hul eweknieë in KwaZulu-Natal, om ondersoek in te stel na die onverwagse tariefverhogings in die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit in Vryheid. Dit volg nadat drastiese verhoogde tariewe vir elektrisiteit, addisionele basiese riool én die gebruik van ’n boorgat die afgelope twee maande op inwoners se munisipale rekeninge verskyn het. Die organisasie het ook die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gevra om toe te tree.

AfriForum het op 10 September ’n formele klagte by onder meer Enoch Godongwana, minister van Finansies, Velenkosini Hlabisa, minister van Cogta, en NERSA, oor die verhoogde tariewe vir die 2025/2026 finansiële jaar ingedien.

Betogings het ook Woensdag 10 September in eMondlo ontstaan waar munisipale geboue en masjinerie aan die brand gesteek is. Die inwoners kla dat die munisipaliteit tariewe implementeer sonder amptelike konsultasies met die gemeenskap. Hoewel AfriForum nie hierdie tipe gedrag goedkeur nie, eis die organisasie dringende antwoorde rakende die tariefverhogings.

“Ons het verskeie briewe aan die Abaqulusi-munisipaliteit gerig maar kry nie bevredigende antwoorde nie. Sommige inwoners se kragrekeninge het verdubbel. Daar het geen behoorlike openbaredeelnameproses plaasgevind nie,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

In die geskrewe klagte versoek AfriForum onder meer dat ’n ondersoek na die wettigheid van hierdie tariefverhogings gedoen word; bevestiging of die onaanvaarbare hoë tariewe deur NERSA goedgekeur is; skriftelike bevestiging dat die munisipaliteit alle statutêre vereistes vir openbare deelname en raadsgoedkeuring nagekom het; dat die verhogings opgeskort of omgekeer word hangende behoorlike hersiening; en hulp om te verseker dat alle uitstaande verbruikersgeskille op ’n billike en wettige wyse opgelos word.

Die munisipaliteit het 14 dae om op AfriForum se klagte te reageer.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf