| |

AfriForum verwyder meer as 900 sakke vullis weens Bloem se swak munisipale dienslewering

AfriForum se vullisverwyderingspan in Bloemfontein het verlede week vir twee dae lank meer as 900 sakke vullis in die Rosestad verwyder. Hierdie optrede volg nadat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se twee weke lange agterstand en swak dienslewering daartoe gelei het dat strate in talle woonbuurte deur rommel ontsier is.

Die gebiede waar vullis opgeruim is, sluit onder meer Langenhovenpark, Generaal de Wet, Uitsig en Fleurdal in. Vir inwoners van hierdie gemeenskappe het die ophoping van vullis nie net ’n gesondheidsgevaar geskep nie, maar ook die waardigheid van hul woonbuurte negatief geraak.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê AfriForum Vullisverwydering se ingryping is soveel meer as net ’n opruimingsaksie, maar ’n werklike poging om Bloemfontein vir al sy inwoners te verbeter.

“AfriForum moedig elke inwoner aan om by AfriForum se vullisverwyderingsdienste aan te sluit of om by die plaaslike tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil aan die toestand van Bloemfontein se woonbuurte te maak. Hierdie projek gaan nie net oor skoon strate nie, maar oor die trots en hoop wat gekweek word onder diegene wat weet dat ons saam ’n beter stad kan bou as wat ’n vervalle munisipaliteit ooit kan breek,” sê Groenewald.

Die AfriForum Vullisverwyderingspan se betrokkenheid bring tasbare resultate. In Augustus alleen is nagenoeg 40 ton vullis verwyder – ’n prestasie wat aanduidend is van die mag wat georganiseerde gemeenskapsaksies inhou. Wanneer hope vullis plek maak vir netjiese strate en skoon speelplekke, word dit duidelik dat ons saam die verval kan omkeer.

“Die agteruitgang van dienslewering is dalk die werklikheid in die Mangaung-metro, maar AfriForum Vullisverwydering bewys herhaaldelik dat die gemeenskap nie magteloos hoef toe te kyk hoe dit gebeur nie. Elke vullissak wat opgetel word, is ’n simbool van hoop en die sekerheid dat daar nog instellings en mense is wat bereid is om verantwoordelikheid te neem waar die regering faal.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf