AfriForum lei nóg 36 protospanlede en 2 skietinstrukteurs in Oos-Kaap en Gauteng op
AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenheid, bekend as die protospan, is verder versterk met die suksesvolle aanbieding van nóg twee intensiewe opleidingskursusse die afgelope twee weke.
Die 19de protospan-opleidingskursus is tussen 27 en 30 Augustus buite Uitenhage in die Oos-Kaap aangebied waar 21 vrywilligers van AfriForum-takke oor die streek heen hul opleiding voltooi het. Tydens dié kursus het 2 lede boonop as taktiese skietinstrukteurs gekwalifiseer, wat hulle in staat stel om gemeenskappe verder op te lei in gevorderde vuurwapenvaardighede.
In Gauteng het AfriForum sy 20ste protospan-kursus van 31 Augustus tot 3 September by Fidelity se Mutango Lodge buite Pretoria aangebied. Daar het ’n verdere 15 vrywilligers uit die noordstreek hul opleiding suksesvol voltooi.
Hierdie intensiewe kursusse sluit taktiese vuurwapenhantering, bloedingbeheer en selfverdediging in. Dit stel ook vrywilligers in staat om vinnig en doeltreffend op hoë-risiko-situasies te reageer.
“Ons is ongelooflik trots op die 36 nuwe protospanlede en die 2 instrukteurs wat nou by AfriForum se nasionale netwerk aansluit,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Met elke kursus word ons gemeenskappe sterker en meer weerbaar teen misdaad. Wanneer die staat nie kan of wil optree nie, neem gewone mense die verantwoordelikheid om hul gemeenskappe te beskerm.”
AfriForum se protospan sluit nou meer as 390 hoogs opgeleide vrywilligers landwyd in. Die organisasie ondersteun tans 177 veiligheidstrukture oor die land heen met byna 11 000 aktiewe vrywilligers.
Vir meer inligting of om betrokke te raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag, besoek www.afriforumbuurtwag.co.za.