|

AfriForum staan Manyi se konsepwetsontwerp vir afskaffing van privaat grondbesit teen; doen beroep op kultuurgemeenskappe om titelaktes vir hul grond te bekom

Klankgreep: Barend Uys (Afrikaans)
Klankgreep: Barend Uys (Engels)

Mzwanele Manyi, MK-Party-LP, se voorgestelde konsepwetsontwerp is ’n aanval op privaat grondbesit én alle kultuur- en ander gemeenskappe wat selfstandigheid, kulturele outonomie en interne selfbeskikking in ooreenstemming met internasionale reg nastreef. Só meen die burgerregteorganisasie AfriForum wat vandag sy amptelike kommentaar ingedien het teen Manyi se 22ste wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat daarop gemik is om, deur die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, alle privaat grondbesit in die land af te skaf en die staat die voog van alle grond en natuurlike hulpbronne te maak.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, sal die voorgestelde wysigings in stryd wees met die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte sowel as artikels 3, 14, 19, 20, 21 en 28 van die Afrika-handves van Mense- en Volkeregte. “AfriForum doen ’n beroep op alle kultuurgemeenskappe en hul leiers om dringend gebruik te maak van artikel 20 van die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte 112 van 1991 om die titelaktes van grond wat hulle beheer, te bekom,” sê Uys.

AfriForum is ten sterkste gekant teen die konsepwetsontwerp en stel voor dat artikel 25 van die Grondwet onveranderd bly om onder meer die volgende redes:

  • Dit sal lei tot die afskaffing van privaat grondbesit en ’n basiese mensereg wat tans deur die Handves van Regte gewaarborg word.
  • Dit sal ’n werklikheid skep wat individue van die Afrikaner-kultuurgemeenskap sowel as ander kulturele minderheidsgemeenskappe tot tweedeklasburgers reduseer wat afwyk van die beginsel van gelyke burgerskap en gelykheid voor die reg.
  • Dit sal tradisionele kultuurgemeenskappe en die koninklike leiers wat hulle as leiers dien, permanente huurders op hul eie grond maak en hulle verhoed om hul grond wettiglik te besit en volle, onbelemmerde beheer daaroor uit te oefen. Dit sal die volle herstel van die waardigheid, gesonde kulturele selfbeeld en eiewaarde van kultuurgemeenskappe en hul koninklike leiers verhoed, aangesien hulle permanent gedefinieer sal word as mense wat as “ongeskik” beskou word om hul grond te besit en ten volle te beheer.
  • Dit sal die gesag en invloed van koninklike leiers en tradisionele leierskapstrukture en ander gemeenskapsgebaseerde instellings verswak, terwyl dit ook kulturele outonomie en kultuurregte in die algemeen negatief sal beïnvloed. Hierdie wysiging sal voortgesette en toenemende oorheersing van regeringsamptenare oor die ontwikkeling, bestuur en regering van kultuurgemeenskappe se grond, eiendom en die gebiede waar hulle woon, moontlik maak.
  • Dit sal veroorsaak dat alle kultuur- en ander gemeenskappe, families en individue wat tot nou toe grond en die eienaarskap daarvan uit die grondhervormingsproses ontvang het, van hul grond ontneem word en dat vordering wat in hierdie verband gemaak is, omgekeer sal word.
  • Dit sal ’n ekonomiese ramp en dus ondenkbare lyding vir die meerderheid landsburgers meebring, aangesien dit beleggersvertroue sal vernietig.

“Die wetsontwerp teiken Afrikaners as ’n afsonderlike kultuurgemeenskap in die besonder, aangesien die Afrikaner die enigste kultuurgemeenskap is wat 6 April 1652 as ’n belangrike datum in hul wording as kultuurgemeenskap in Suider-Afrika beskou. Dit misken die diverse kulturele samestelling van ons samelewing en die komplekse geskiedenis van die land en die streek met betrekking tot die beweging van kultuurgemeenskappe, families en individue, die vorming en ontbinding van kultuur- en ander gemeenskappe en nasies wat oor tyd plaasgevind het én die gepaardgaande veranderinge in die benutting, besit en eienaarskap van grond, asook die uitwerking van die natuurlike omgewing en klimaat op laasgenoemde,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners