|

Malema en EFF skuldig aan haatspraak – AfriForum verwelkom hofuitspraak

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum se jarelange drukveldtog het uiteindelik vrugte afgewerp met die Gelykheidshof in Kaapstad wat Julius Malema, leier van die EFF, vandag aan haatspraak skuldig bevind het. Hierdie saak volg nadat AfriForum en sy lede in 2022 ’n stortvloed van klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien het rakende Malema se uitlatings tydens ’n EFF-provinsiale vergadering in die Wes-Kaap. Toe die saak teen 2023 nog sloer en geen terugvoer ontvang is nie, het AfriForum ’n klag by die SAMRK ingedien en terugvoer oor die vordering geëis. AfriForum het ook die hofsaak bygewoon soos dit ontvou het.

In 2022 het Malema tydens ‘n EFF-saamtrek in die Wes-Kaap gesê dat “julle [EFF-ondersteuners] nooit bang moet wees om dood te maak nie” en dat “’n rewolusie vereis dat daar op ’n stadium doodgemaak moet word, want om dood te maak is deel van ’n rewolusionêre daad”.

In sy uitspraak het regter Mark Sher aangevoer dat dit onaanvaarbaar is dat Malema wit mans op grond van hul ras uitsonder en in sy toespraak tot hul moord oproep. Sher het voortgegaan: “Wanneer so ’n oproep van die leier van die destydse derde (nou vierde) grootste politieke party in die land kom, het dit die potensiaal om grootskaalse rassegeweld aan te hits.” Sher het bevind dat Malema se uitlatings ’n duidelike bedoeling verteenwoordig om rassehaat te bevorder of te propageer en dat die EFF Malema se haatspraak “onderskryf en ondersteun” het en ook verantwoordelikheid daarvoor moet neem.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare betrekkinge by AfriForum, bevestig en beklemtoon die Gelykheidshof se uitspraak wat die meeste mense reeds weet: Julius Malema en die EFF is ekstremiste wat geweld teen minderhede aanhits en ’n boodskap van rassehaat versprei. “Dit is skandalig dat die president van Suid-Afrika Malema in 2018 genooi het om weer by die ANC aan te sluit en hom steeds met kinderhandskoene behandel,” gaan Van Zyl voort.

“Hierdie hofuitspraak, tesame met die Britse regering wat Malema ’n visum weier weens sy gewelddadige, ekstremistiese retoriek, sowel as die Amerikaanse staatsdepartement wat gewaarsku het oor die EFF se aanhitsing van geweld teen minderheidsgroepe, werp ’n  skandelike skaduwee op Ramaphosa en die ANC se voortgesette weiering om Malema en “Kill the Boer” in geen onsekere terme te veroordeel,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf