AfriForum nader hof wéér sodat Ngwathe-munisipaliteit se duisende na dienslewering gaan
Ondanks die feit dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys is, gaan dié munisipaliteit voort om duisende rand aan appèlaansoeke te spandeer. Dit terwyl AfriForum alles in die stryd werp om te verseker dat die oorspronklike uitspraak, wat die provinsiale regering magtig om by die munisipaliteit in te gryp en die munisipale raad te ontbind, sonder uitstel deur die hof inwerking gestel word.
Terwyl inwoners aan swak dienslewering en ernstige watertekorte onderwerp word, het die munisipaliteit onlangs ’n aansoek aan die Hoogste Hof van Appèl gebring teen die Junie-uitspraak. Dié appèlproses kan tot drie jaar lank duur.
AfriForum gaan gevolglik ’n aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 bring om te vra dat die hofbevel intussen uitgevoer word. Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, sê omdat die inwerkingstelling van beslissings dikwels uitgestel word hangende die uitkoms van ’n appèlproses, is dit in die belang van die gemeenskappe onder die Ngwathe-munisipaliteit se bestuur dat die uitspraak intussen inwerking gestel word.
“Daar bestaan uitsonderlike omstandighede wat dit noodsaak dat regter JP Daffue se uitspraak so gou as moontlik uitgevoer word. Die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort kan nie vir jare lank aan swak dienslewering uitgelewer word terwyl die appèlproses voortduur nie,” sê hy.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die Ngwathe-munisipaliteit het opnuut bewys dat hy geensins die inwoners se beste belange op die hart dra nie. “In plaas daarvan om munisipale fondse aan dienslewering te bestee, word dit aangewend om borg te staan vir die onbevoegde munisipale amptenare wat verantwoordelik is vir die verskeie grondwetlike, wetlike én administratiewe gebreke in die munisipale gebied. AfriForum sal nie toelaat dat inwoners oorgelewer word of verder vir sinnelose hofsake opdok nie.”
AfriForum het op 20 Junie ’n deurslaggewende oorwinning in die Hooggeregshof in Bloemfontein behaal toe daar bevind is dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie meer sy verpligtinge teenoor inwoners nakom nie. Die hof het gevolglik die ontbinding van die munisipale raad beveel en die provinsiale regering opdrag gegee om onmiddellik in te gryp. Hierdie uitspraak het gevolg ná jare van verwaarlosing, onbevoegdheid en verval, waartydens inwoners sonder betroubare dienslewering gelaat is.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê die munisipaliteit is geheel en al uit voeling met dit wat op grondvlak aangaan. “Dit is asof die talle waterlekke, daelange kragonderbrekings en verbrokkelde paaie nie raakgesien word nie. Die gemeenskap is keelvol en daadwerklike optrede is nou nodig.”
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Dié hofuitspraak is deurslaggewend vir AfriForum se stryd teen plaaslike regeringsverval. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.