AfriForum vat NERSA hof toe oor tarieweproses, eis deursigtigheid en billike openbare deelnameproses
Die dae waarin munisipaliteite en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) stil-stil die implementering van nuwe kragtariewe kan stoomroller, is moontlik getel. Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek die hof genader om die openbare deelnameproses wat vir die instelling van die huidige finansiële jaar se aangepaste munisipale kragtariewe gevolg is, ongeldig te laat verklaar. AfriForum versoek die hof voorts om ook ’n interdik uit te reik om sodoende gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbare deelnameprosesse te verseker.
AfriForum het verlede jaar ’n belangrike oorwinning teen NERSA in die hof behaal toe die Gautengse Hooggeregshof in Junie 2024 bevestig het dat die reguleerder se besluit om aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig was.
Ten spyte van die hofuitspraak wat verlede jaar beslis het dat NERSA se oorweging van aansoeke om munisipale kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies, onregmatig én ongeldig was, blyk dit dat die reguleerder vanjaar die proses op ’n soortgelyke wyse aangepak het en boonop nie genoegsame tyd vir openbare deelname toegelaat het nie.
Die onderstaande tydlyn sit die verloop van vanjaar se aansoek-en-goedkeuringsproses uiteen:
- 26 Maart 2025: NERSA gee aan munisipaliteite opdrag om tariefaansoeke vir verhogings vir die 2025/2026- finansiële jaar teen 30 April 2025 in te dien en dat geen tariefaanpassing sonder die voorvereiste kostestudies oorweeg sal word nie.
- Van 25 April 2025: NERSA maak stuk-stuk aan die publiek bekend watter aansoeke ontvang is.
- 9 Mei 2025: NERSA kondig aan dat 130 aansoeke om munisipale kragtariefverhogings ontvang is en dat alle aansoeke vergesel is deur die nodige kostestudies.
- Mei 2025: AfriForum se ondersoek na NERSA se bewerings van 9 Mei toon dat slegs drie munisipaliteite volledige kostestudies by hul aansoeke ingesluit het, en nie 130 soos wat die reguleerder aangevoer het nie. Die oorblywende 127 munisipaliteite het slegs afgewaterde uiteensettings van die nuwe tariewe ingedien sonder ’n behoorlike uiteensetting van hoe die tariewe bepaal is.
- Junie 2025: Tydens vergaderings wat NERSA op 5, 9, 12,18 en 20 Junie gehou het, is alle munisipale tariefaansoeke vir die 2025/2026- finansiële jaar, vir implementering op 1 Julie vanjaar goedgekeur.
Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van Plaaslikeregeringsake, is die publiek nie ’n billike tyd gegee om insae op die aansoeke in te dien nie. “Die sperdatum vir die indiening van aansoeke is keer op keer uitgestel, maar die tyd wat die publiek gehad het om op die aansoeke kommentaar te lewer is nie dienooreenkomstig aangepas nie en in sekere gevalle is die goedkeuring vir verhogings skynbaar reeds goedgekeur gewees voordat die tyd vir publieke kommentaar daaroor verstryk het,” verduidelik Mostert.
AfriForum hou daarom vol dat die openbare deelnameproses wat NERSA gevolg het, ongeldig verklaar moet word. Die organisasie vra in sy hofstukke ook dat NERSA se tydlyne voortaan sodanig aangepas moet word dat dit genoegsame tyd vir openbare deelname toelaat en dat alle aansoeke en kostestudies betyds gepubliseer word.
Benewens die afdwing van ’n aanvaarbare skedule wat genoegsame tyd vir openbare deelname moet toelaat, vra AfriForum ook die hof om alle munisipaliteite aan te maan te verseker dat inwoners van die betrokke munisipaliteite ingelig word van munisipaliteite se aansoeke by NERSA sowel as die openbare deelnameproses.
Volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet 56 van 2003 moet ’n munisipaliteit minstens 90 dae voor die begin van ’n nuwe finansiële jaar sy begroting in die munisipale raad ter tafel lê. Ten spyte daarvan het NERSA se aansoekproses vanjaar eers op 26 Maart – slegs vyf dae voor die eerste konsepbegroting ter tafel gelê moes word – begin. Dit beteken dat munisipale rade vanjaar begrotings moes oorweeg en soms goedkeur voordat NERSA oor hul nuwe kragtariewe besluit het. Dié problematiese proses veroorsaak voorts dat talle munisipaliteite geskatte tariewe aan die publiek moet voorhou tydens begrotingsvergaderings, net om later geheel ander tariewe, soos deur NERSA goedgekeur, te implementeer.
“NERSA se gesloer met die proses en hul besluit om weer tariefverhogings sonder die nodige kostestudies goed te keur, ten spyte van wetgewing en ’n hofuitspraak wat hulle verhoed om dit te doen, skep ernstige probleme vir munisipaliteite en inwoners. Aangesien die reguleerder duidelik nie sy wetlike verpligtinge nakom nie, is die hof se ingryping nou noodsaaklik om in die belang van deursigtigheid van die proses, die publiek se reg om aan die proses deel te neem én gesonde finansiële bestuur in munisipaliteite op te tree,” sluit Mostert af.
Nota aan redakteurs:
Kragtens die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 moet munisipaliteite minstens elke vyf jaar, of wanneer daar ’n wesenlike verandering aan hul tariefstruktuur is, ’n kostestudie onderneem om te bepaal wat die werklike koste van kragverspreiding in die munisipaliteit is. Munisipale kragtariewe moet strook met die werklike koste van kragvoorsiening – wat slegs bepaal kan word deur ’n behoorlike kostestudie – en mag net ’n klein winsmarge hê. NERSA se taak as reguleerder is onder meer om toe te sien dat munisipale kragtariewe en gelisensieerde kragverspreiders aan die betrokke wetgewing voldoen.