|

Plaasaanvalle: Regering kies wéér ontkenning ten spyte van feite, kap AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum bestempel die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking (DIVS) se poging om die voorkoms van enige rasse- en politieke motivering vir plaasaanvalle te ontken, as nóg ’n bewys dat die regering ontkenning van dié wrede misdade bo aanspreeklikheid en feite kies. Die departement het gister in reaksie op ’n verslag van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, aangevoer dat die bewerings dat plaasaanvalle op ’n spesifieke ras gemik is of aangevuur word deur rasse-retoriek, ongegrond is. AfriForum hou vol dat die DIVS boonop poog om die erns van plaasaanvalle te onderspeel.

Die DIVS se bewering dat plaasaanvalle bloot deel vorm van gewone misdaad, misken dekades van bewyse wat op die teendeel wys.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, verwys die regering gerieflikheidshalwe op die laaste kwartaal se beskikbare misdaadstatistiek om aan te voer dat daar nie ’n “patroon” is wat toon dat aanvalle weens “opruiende rasse-retoriek teen ’n spesifieke gemeenskap” uitgevoer word nie. “Dié stelling vermy opsetlik ’n historiese werklikheid, naamlik dat plaasaanvalle die land reeds dekades lank teister en dat talle aanvalle ’n duidelike rassistiese en politieke ondertoon het,” verduidelik Broodryk.

AfriForum benadruk dat verskeie voorbeelde hiervan bestaan:

  • Die veroordeelde plaasmoordenaar Ntutoko Chuene het in 1999 openlik erken dat hy in die uitvoering van sy misdaad beïnvloed is deur die “Kill the Boer”-dreunsang. 
  • In 2018 het aanvallers wat op ’n plaas buite Porterville toegeslaan het, eers die woorde “Dubul’ ibhunu” (“Kill the Boer”) op die voordeur van Tobie van Schalkwyk en Desiree Taylor-Van Schalkwyk se plaashuis geverf, voordat die paartjie enkele weke later aangeval is. Desiree is seksueel aangerand en petrol is op Tobie uitgegooi met die doel om hom aan die brand te steek.   
  • Plaasaanvallers het in 2023, terwyl hulle besig was om Amanda Platt op ’n plaas buite Pietermaritzburg aan te rand, “Kill the Boer, kill the farmer” geskree. 

Dié aanvalle is volgens Broodryk nie lukrake gevalle van opportunistiese misdaad nie. “Dit is haatmisdade, gemotiveer deur gevaarlike retoriek wat die regering pal weier om te veroordeel. Daar is nog baie ander voorbeelde waar rassistiese uitlatings tydens plaasaanvalle gemaak is, maar tog ignoreer die owerhede dit,” verduidelik Broodryk.

“Die regering se weiering om die ware aard van hierdie aanvalle te erken én sy stilswye wanneer politici of ander deur middel van onder meer die ‘Kill the Boer’-dreunsang geweld teen minderhede aanvuur, is deel van die probleem. Om dit wat so duidelik soos daglig is te ontken, laat die regering nie net slagoffers in die steek nie, hulle moedig oortreders aan.”

Totdat plaasaanvalle nie as ’n prioriteitsmisdaad erken word en met die nodige dringendheid getakel word nie, sal landelike gemeenskappe onder beleg bly, waarsku AfriForum.

“Die land en sy mense verdien meer as gemanipuleerde statistiek om in te pas by ’n narratief van ontkenning – waarheid, daadwerklike optrede en leierskap wat alle vorme van haat veroordeel, is wat nodig is,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings