|

AfriForum se Naboomspruit-tak verwyder vullis tydens munisipale staking

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong het vandag begin om self die vullis op dié dorp te verwyder nadat ’n staking deur werknemers van die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit gelei het tot ’n ophoping van vullis oor die dorp heen. Die AfriForum-span het in Gholfpark met die vullisverwydering begin en beplan om vir die res van die week voort te gaan totdat die hele dorp se vullis verwyder is.

Hierdie staking, wat nou al meer as ’n week lank duur, spruit uit ’n salarisdispuut waar werknemers in Mookgophong dieselfde salarisse eis as hul eweknieë in Modimolle. Die staking het ’n erge impak op die gemeenskap en het tot gevolg gehad dat vullissakke op sypaadjies ophoop en deur diere versprei word. Hierdie situasie skep ’n onhigiëniese omgewing en lok plae soos rotte.

“Die gemeenskap van Mookgophong kan nie langer die gevolge dra van die munisipaliteit se onvermoë om basiese dienste te lewer nie,” sê André van der Schyff, tesourier van AfriForum se Naboomspruit-tak. “Dit is ’n krisis wat ons herhaaldelik teëkom en ons kan nie stilbly en terugsit terwyl die dorp verval nie.”

AfriForum se Naboomspruit-tak het reeds in Februarie ’n brief aan dr. Phophi Constance Ramathuba, premier van Limpopo, gerig oor die volgehoue vullisverwyderingskrisis in die Modimolle-Mookgophong munisipale gebied. AfriForum se jongste ingryping is ’n bewys van die onophoudelike probleme met dienslewering in die streek.

“Ons sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas om vullisverwyderingstariewe vir die gemeenskap af te skaf, aangesien hulle nie vir dienste kan betaal wat nie gelewer word nie,” voeg Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, by. “AfriForum sal aanhou om die hand in eie boesem te steek en dienste te lewer waar die munisipaliteit faal.”

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die oplossing.

Soortgelyke plasings