|

AfriForum-oorwinning in Ngwathe-hofstryd bly staan, beslis hof ná aansoek om verlof tot appèl misluk

Klankgreep: Corné Cronje (Afrikaans)
Klankgreep: Corné Cronje (Engels)

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se poging om te appelleer teen die Vrystaatse Hooggeregshof se uitspraak wat op 20 Junie in AfriForum se guns gelewer is en wat bepaal het dat die munisipale raad moet ontbind en die provinsiale regering moet ingryp, het vandag misluk. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Bloemfontein vanoggend dié munisipaliteit, sy munisipale bestuurder en die munisipale raad se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het. Dié beslissing bevestig dat regter J.P. Daffue se gestruktureerde interdik wat onder meer bepaal dat die provinsiale ingryping ingevolge artikel 139 van die Grondwet gedoen moet word, finaal geldig bly en dat die munisipaliteit se finansiële en bestuurskrisis onder streng toesig geplaas moet word.

Regter Daffue het in sy uitspraak vandag beklemtoon dat hy die betoë van die regspanne oorweeg het, maar nie oortuig is dat ’n hoër hof tot ’n ander beslissing sou kom nie. Die uitspraak bevestig ook dat die omvang van die munisipaliteit se wanbestuur, finansiële krisis en totale onvermoë om behoorlike basiese dienste aan inwoners te lewer so ernstig is dat die vroeëre beslissing – naamlik dat provinsiale ingryping moet plaasvind – nie net regmatig is nie, maar ook noodsaaklik.

Die munisipaliteit, munisipale bestuurder en munisipale raad se aansoek is met koste van die hand gewys.

Volgens Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture, is vandag se uitspraak ’n belangrike oorwinning in die belang van die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit wat reeds jare lank gebuk gaan onder die gevolge van die munisipaliteit se korrupsie en verval. “Dit bevestig dat hul reg op basiese dienste soos water, vullisverwydering en finansiële deursigtigheid deur die hof beskerm word. Die provinsiale regering het nou ’n grondwetlike plig om daadwerklik in te gryp en die munisipaliteit weer funksioneel te maak,” verduidelik hy.

“Vandag is dit bewys dat gemeenskappe nie magteloos staan teenoor wanbestuur nie. Dit skep ’n belangrike presedent, naamlik dat gemeenskappe saam met burgerlike organisasies soos AfriForum die staat tot verantwoording kan roep en basiese dienslewering kan afdwing. Die hof het bevestig dat provinsiale en nasionale owerhede móét ingryp wanneer plaaslike regering misluk. Vir AfriForum en gemeenskappe landwyd is dit ’n kragtige regsinstrument om dienslewering te beskerm én te herstel,” sluit Cronjé af.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, verwelkom vandag se uitkoms, maar beklemtoon dat sy hoop dat die gemeenskap nou aktief betrek sal word by die herstel van die munisipaliteit. “Ons reik ’n hand uit na die munisipaliteit en hoop van harte dat hulle dit sal aanvaar en in die belang van die inwoners se welvaart sal optree.”

Soortgelyke plasings