700 Bloemfonteiners sê nee vir munisipale vullisverwyderingstarief
Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit kan nou geen ander rede buiten sy eie onwilligheid aanvoer waarom 700 huishoudings nie van die maandelikse munisipale vullisverwyderingstarief kwytgeskel kan word nie. AfriForum het vandag ’n regsbrief met die aansoeke om kwytskelding van 700 Bloemfonteiners by die munisipale kantoor op die munisipale bestuurder, Sello More, beteken.Die burgerregteorganisasie het reeds in Januarie vanjaar ’n skrywe aan dié metro gerig om die kwytskeldingsaansoeke – waarvoor die metro se eie bywette voorsienning maak – te finaliseer. Tot dusver kon die metro as deel van hul geykte vertragingstaktiek steeds nie uitsluitsel hieroor gee nie.
Die huishoudings wat kwytskelding van die munisipale vullisverwyderingstarief versoek, betaal reeds maandeliks privaatvullisverwyderingsdienste om hierdie diens te lewer aangesien die Mangaung-metro se geskiedenis van dienslewering alles behalwe rooskleurig is. In die verlede was daar al vir weke lank geen vullisverwydering van die Mangaung-metro af nie en moes huishoudings alternatiewe planne maak, maar moes hulle ongeag die gebrek aan dienslewering steeds die vullisverwyderingstarief aan die munisipaliteit betaal.
In sy regsbrief voer AfriForum aan dat dié brief met die aansoeke daarby juis per hand by die munisipaliteit ingedien word sodat daar nie meer hare gekloof word oor wat presies versoek word en hoeveel huishoudings die kwytskelding aanvra nie. Voorts word daar verwys na die sporadiese aard van die vullisverwyderingsdiens, dat daar geen vaste skedule vir hierdie diens is nie en by tye word die diens glad nie gelewer nie.
“Ons wil weet of die aansoeke goedgekeur is of nie en as dit afgekeur is wil ons weet waarom. In plaas daarvan om vir ons ’n antwoord te gee, gebruik die munisipaliteit allerhande vertragingstaktieke om steeds inwoners se vullisverwyderingstarief te verhaal vir ’n diens wat privaatvullisverwyderingsdienste nou lewer. Inwoners het die reg om self te besluit by wie hulle betroubare dienslewering wil kry en mag nie deur ’n munisipaliteit gedikteer word om van hul onvolhoubare dienste gebruik te maak nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
“Die situasie toon duidelik dat die Mangaung-metro en hul leierskap geen waarde ag aan versoeke vanaf die gemeenskap nie, wat lei tot inwoners wat steeds vir ’n diens moet betaal selfs al word daar geen dienste gelewer nie. In sommige gevalle word lede selfs gedwing om dubbele koste aan te gaan om hul vullis verwyder te kry,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
Talle meenthuiskomplekse is tans slagoffers van die Mangaung-metro se swak dienslewering. Daar staan honderde vullissakke opmekaar gestapel weens die metro se onvermoë om die vullis gereeld en volgens skedule te verwyder. Dit veroorsaak groot frustrasies by die inwoners aangesien informele rommelversamelaars die sakke oopskeur en dan net so los wat dan siektedraende peste, soos rotte en selfs slange, lok. “Dit skep ’n gevaarlike situasie wat die gesondheid van inwoners bedreig asook die veiligheid van die gemeenskap in gedrang bring,” voeg Groenewald by.
“Ons sal nie opgee totdat geregtigheid geskied en mense kry waarvoor hulle betaal nie. Ons sal voortgaan om ons lede te ondersteun in die geveg teen swak dienslewering en is bereid om hof toe te gaan indien nodig,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek. “Vullisverwydering is al vir jare ’n probleem in Bloemfontein en omliggende areas weens die munisipaliteit se swak bestuur. Munisipale bywette maak voorsiening vir kwytskelding en dit is tyd dat ons daardie reg begin opeis. Die leierskap van die metro moet ook aanspreeklikheid aanvaar vir die mislukking van dienste wat die gemeenskap raak.” AfriForum lewer self al vir ’n geruime tyd ’n vullisverwyderingsdiens aan huishoudings in Bloemfontein en, vroeg in Februarie vanjaar het AfriForum sy nuwe oranje vullisverwyderingsvragmotor ingespan om sowat 20 ton vullis te verwyder. Bloemfonteiners kan gebruik maak van hierdie diens. Besoek www.vullisverwydering.co.za vir meer inligting.
