Witbank-tak bewillig nog teer om dorp se strate te herstel
AfriForum se Witbank-tak in Emalahleni het in Februarie en Maart as deel van die organisasie se padveiligheidprojek nog teer bewillig om die dorp se slaggate te herstel. Plaaslike buurtwagte het na die tak uitgereik vir teer sodat hulle self die paaie kan begin herstel.
AfriForum het meer as 100 sakkies teer in hierdie twee maande versprei en beoog om binnekort nog ’n verdere 280 sakke teer te bewillig.
Hierdie projek gaan eersdaags ’n hupstoot kry wanneer AfriForum se Witbank- en Middelburg-takke gesamentlik hulle buurtspanne bekendstel. Sodra dit gebeur, sal die takke fokus om Emalahleni en Middelburg op te knap. Die netheid van die omgewing en die toestand van die paaie sal voorkeur geniet.
“Ons kan nie agteroorsit en toekyk hoe ons dorpe agteruitgaan nie. Ons dorpe verval, dit lyk sleg en boonop is dit ’n veiligheidsrisiko. Ons sal self begin om die dorpe na hul volle glorie te herstel,” sê Sarel Van den Heever, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.
Ondersteun AfriForum se Witbank-tak, besoek: www.wordlid.co.za.