Waterkrisis vererger terwyl waterrade miljoene in die sak steek
AfriForum doen ’n beroep op die Ouditeur-Generaal en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) om hul ondersoek na korrupsie en die vergoedingstrukture in Suid-Afrika se waterrade uitbrei om al sewe dié waterrade in te sluit. Dit volg ná onlangse onthullings dat senior lede van Suid-Afrika se waterrade miljoene rande se raadsfooie in die sak steek – in sommige gevalle selfs soveel as R100 000 per vergadering. Dít terwyl mense oor die land heen telkens in toue moet staan om water uit watertenks, voortdurende wateronderbrekings moet verduur en moet toekyk hoe riool in riviere invloei.
Volgens ’n parlementêre antwoord deur die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het raadslede gesamentlik byna R50 miljoen in die 2023/24-boekjaar in vergoeding en voordele ontvang, insluitend sakeklas-oorsese reise en eise vir die bywoning van nie-kerngeleenthede soos personeelbegrafnisse en gala-etes. Sommige lede het ook reis- en verblyfkoste van meer as R200 000 per jaar aangegaan wat alles deur belastingbetalers gedra moet word.
Entiteite soos uMngeni-uThukela, Lepelle Northern Water en Amatola Water, word reeds deur die SOE ondersoek en is die middelpunt van hierdie skandaal. Dieselfde rade word geteister deur wanbestuur, infrastruktuur wat ineenstort en gebrekkige dienslewering wat miljoene huishoudings raak.
“Hierdie growwe misbruik van openbare fondse is ’n belediging vir elke gemeenskap wat sonder skoon drinkwater sit,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake. “Die wet is duidelik: ingevolge artikel 195 van die Grondwet en die Wet op Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000) moet openbare administrasie verantwoordbaar, deursigtig en gefokus wees op dienslewering. In plaas daarvan funksioneer hierdie waterrade as persoonlike verrykingskemas vir die politieke elite.”
AfriForum beklemtoon dat water ’n basiese mensereg is ingevolge artikel 27(1)(b) van die Grondwet. Terwyl regeringsentiteite skaars hulpbronne mors op oordrewe luukshede tydens vergaderings, verloor munisipaliteite steeds na raming 40–50% van skoon water deur lekkasies en verwaarlosing – ’n krisis wat voorkom kon word deur vroegtydig herstelwerk te verrig en te belê in infrastruktuur.
In ’n skrywe aan Majodina, asook die Ouditeur-Generaal en die SOE eis AfriForum onder meer dat:
- Die Ouditeur-Generaal en SOE hul ondersoeke na die vergoedingstrukture van al sewe waterrade uitbrei.
- Alle raadsaanstellings op meriete gebaseer en deursigtig moet wees. Dié individue moet duidelike kundigheid in waterbestuur, ingenieurswese en finansies toon.
- Die Departement van Water en Sanitasie alle bywoning van internasionale byeenkomste vir waterraadslede staak tot die waterkrisis in Suid-Afrika gestabiliseer het.
- Gemeenskappe ingesluit word in oorsigprosesse, in ooreenstemming met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en artikels 76 tot 78 van die Wet op Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000).
“AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe te mobiliseer, onafhanklike watergehaltetoetse deur ons #Skoonwater-veldtog uit te voer, en teen ’n kultuur van korrupsie en vermorsing te veg,” voeg De Klerk by. “Die mense van Suid-Afrika verdien water in hul krane, nie miljoenêr-raadslede nie.”