UV-adjunkvisekanselier fokus eerder op anti-Afrikaanse agenda as gehalte onderrig – AfriForum
AfriForum beskou die opdrag van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se adjunkvisekanselier vir akademie, prof. Anthea Rhoda, dat die gebruik van Afrikaanse onderrig in alle modules buiten in die vak Afrikaans dadelik gestaak moet word, as ’n duidelike bewys van haar agenda teen Afrikaans en dus ook inheemse tale, ten koste van akademiese uitnemendheid en diens aan die gemeenskap.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, fokus Rhoda se opdrag op die gebruik van die taal, sonder enige akademiese begronding vir die besluit of inagneming van die voordele van moedertaalonderrig. “Ongeag wat die taalbeleid van die universiteit bepaal, behoort daar ruimte te wees om studente se behoefte te dien. Die universiteit is ’n bate vir die gemeenskap van die Vrystaat en word onder meer met hulle belastinggeld befonds. Sesotho-sprekers is die grootste taalgemeenskap in die Vrystaat, met Afrikaans in die tweede plek. Meer moet daarom gedoen word om hierdie tale te bevorder sodat die studente wat hier opgelei word, die provinsie se gemeenskap kan dien. As studente en dosente dus meer tale as Engels wil akkommodeer en dit kan geskied sonder om enigeen uit te sluit, behoort die taalbeleid buigsaam te wees en dit toe te laat,” meen Bailey.
Sy beklemtoon dat die veranderende demografie van universiteitsgemeenskappe beteken dat hulle taalbehoeftes ook verander, wat juis die rede is waarom Suid-Afrikaanse openbare universiteite se taalbeleide bepaal dat dit gereeld hersien moet word.
“AfriForum was in ’n lang hofstryd teen die universiteit gewikkel, wat geëindig het met die uitspraak van die Konstitusionele Hof in 2017 ten gunste van ’n Engelse taalbeleid, maar met ruimte vir fakulteite om wel toegewings te maak. Daarna het die universiteit in 2021 ook ’n taalsentrum geopen om meer tale op die kampus te bevorder. Rhoda se opdrag is duidelik ’n tree terug in dié verband. Dit is tekenend van owerheidsondersteunde instellings se onwilligheid om die land se inheemse tale en hulle sprekers te dien, en beklemtoon waarom dit noodsaaklik is om privaat instellings soos Akademia te ondersteun ten einde moedertaalonderrig te beskerm en bevorder.