|

Stilfontein-buurtwag help ná skoolbus en bakkie bots

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het die afgelope Sondagmiddag ’n groep skoolkinders gehelp nadat ’n bakkie om 13:30 met hul bus gebots het. Die bus was onderweg na Pretoria toe die botsing plaasgevind het. Die buurtwag was eerste op die toneel en het die verkeer reguleer totdat die owerhede op die toneel aangekom het. Daar was geen beserings nie.

Die sleepwa met die leerders se bagasie was erg beskadig en die buurtwag het gehelp om die bagasie aan die leerders terug te besorg. Die buurtwag het omgesien na die leerders se veiligheid totdat ’n ander bus uit Pretoria opgedaag het. Die buurtwaglede het gesorg dat die leerders iets kon kry om te eet aangesien hulle tot ongeveer 18:30 gewag het vir alternatiewe vervoer.

“Dit is met groot trots dat ek kan getuig dat Stilfontein se AfriForum-buurtwag op hierdie ongelukstoneel was vandat dit aangemeld is totdat die kinders veilig in die nuwe bus was. Die feit dat ouers vanuit Pretoria gerusgestel is toe hulle gehoor het dat daar ’n AfriForum-buurtwag op die toneel was, is ook ’n riem onder die hart. Namens hierdie ouers en die hele AfriForum-gemeenskap wil ek graag hierdie buurtwag bedank vir hulle onbaatsugtige diens en die ekstra myl wat hulle gestap het vir ander mense se kinders,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Om by die buurtwag betrokke te raak, kontak vir Marius Trollip by 082 494 4123.

Soortgelyke plasings