Riool
|

Samewerking lei tot suksesvolle beëindiging van rioolstorting in Mogale City

Danksy AfriForum se volgehoue druk, is die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit uiteindelik verplig om die onwettige pomp van rou riool in ’n stormwaterkanaal op die hoek van Naudé- en Schoemanstraat stop te sit en die betrokke terrein te rehabiliteer. AfriForum, in samewerking met die Vryheidsfront Plus (VF Plus), het reeds in April vanjaar begin om volhoubaar druk toe te pas deur klagtes in te dien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en verskeie formele skrywes aan die munisipaliteit te rig. Hierdie druk het vrugte afgewerp met die MRK se bevinding einde Junie, en AfriForum en die VF Plus verwelkom die toegewing van die Mogale City-munisipaliteit om aan wetlike en omgewingsverpligtinge te voldoen.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wesrand, is dié uitkoms ’n bewys van wat moontlik is wanneer organisasies met gedeelde waardes saamwerk in belang van die gemeenskap. “Ons bedank die VF Plus vir hul volgehoue ondersteuning en doeltreffende samewerking. Hierdie sukses wys dat vennootskappe wél ’n verskil kan maak,” sê Blignault.

Hy voeg by dat AfriForum graag verdere samewerking met die Mogale Cit-munisipaliteity sal nastreef om ander riool- en omgewingsprobleme in die gebied daadwerklik op te los. “Ons nooi ook ander organisasies en instellings uit om met ons saam te werk. Dit is slegs deur kollektiewe optrede dat ons ’n veiliger en gesonder omgewing vir alle inwoners kan verseker.”

AfriForum en die VF Plus bly verbind tot die beskerming van gemeenskapsbelange en omgewingsregverdigheid, en sal voortgaan om die regering tot verantwoording te roep waar nodig.

Besoek www.wordlid.co.za  om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings