SA-ambassadeur uitgeskop: ANC dobbel met land se toekoms – AfriForum
Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, se aankondiging dat Ebrahim Rasool, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA, tot persona non grata verklaar is, is ’n bewys daarvan dat die ANC se diplomatieke dobbelspel misluk én die land en sy mense duur te staan gaan kom. Só reageer Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregteorganisasie AfriForum, nadat die nuus oor Rubio se afjak van Rasool vroegoggend Suid-Afrikaanse tyd bekend geraak het.
Kriel benadruk dat die ANC-leiers en Rasool, as ontplooide kader, direk verantwoordelikheid vir dié diplomatieke flater moet aanvaar. Hy kritiseer die ANC se openlike en hardnekkige diplomatieke optrede die afgelope week en hou vol dat dié tipe optrede die verhouding met die VSA ongekende skade berokken. “Te midde van die huidige diplomatieke spanning het die ANC-leiers dit goedgedink om Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, Mansour Shakib Mehr, verlede week te nooi na die ANC-hoofkantoor. En gister het Rasool dit goedgedink om ’n striemende aanval op president Donald Trump te lewer. Die ANC-leierskap prioritiseer die party se belange en onbesonne beleide bo die land se welsyn. Met hierdie soort optrede dobbel die ANC-leiers met die toekoms van die land en ons as gewone mense in die land.”
Dit is, volgens Kriel, in almal se belang om pogings te versnel om ’n duidelike rigtingsverandering in Suid-Afrika te bewerkstellig. “AfriForum sal in dié pogings volhard, andersins sál die ANC-leiers se optrede tot die land se ondergang lei. Ons is dit aan ons kinders verskuldig om nou sterk standpunt in te neem teen die onreg wat president Cyril Ramaphosa en sy kaders tot die nadeel van almal in die land pleeg,” sluit Kriel af.