| |

Rustenburg-tak knap paaie op en neem eerste stap na samewerking met munisipaliteit

AfriForum se Rustenburg-tak het gedurende Julie vanjaar verskeie aksies aangepak om woonbuurte netjies te maak.  Dié tak het slaggate gevul, padmerke geverf en selfs in gesprek getree met die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit om te bepaal hoe die tak en die munisipaliteit beter kan saamwerk.

Talle kleiner slaggate is in Bult-, Klopper-, Kremetart- en Manukastraat met sowat 300 kg beskikbare teer gevul.

Padmerke by kruisings, stopstrate en spoedhobbels is ook op verskeie plekke oorgeverf, waaronder Kock-, Landdros-, Kruger-, Bult- en Kerkstraat. Ongeveer 20 liter wit en geel verf is hiervoor gebruik.

AfriForum het op 23 Julie ’n konstruktiewe vergadering met die Rustenburg-munisipaliteit gehou. Verteenwoordigers van AfriForum het ’n memorandum van verstandhouding aan die munisipale bestuurder, Ashmar Khuduge, en direkteure van verskeie sleutelfakulteite soos krag, paaie en water voorgelê.

Volgens die bepalings van die memorandum wil AfriForum en die munisipaliteit saamwerk aan verskeie projekte om dienslewering, gemeenskapsveiligheid en infrastruktuur te verbeter. Die ooreenkoms voorsien onder meer in die oprigting van ’n werkkomitee wat gereeld sal vergader en gesamentlike aksieplanne sal opstel ten bate van Rustenburg se inwoners.

“Ons is bemoedig deur die positiewe gesindheid van die munisipaliteit en glo dat samewerking tussen gemeenskapsinstellings en plaaslike owerhede die sleutel is tot werklike, volhoubare dienslewering. Hierdie is net die begin, Daar is ongelooflik baie werk wat nog gedoen moet word in Rustenburg,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico.

AfriForum nooi inwoners van Rustenburg uit om betrokke te raak en saam te bou aan ’n funksionele en veilige dorp. Kontak Dawie Conradie by 082 930 9905 vir meer besonderhede oor projekte of lidmaatskap.

Soortgelyke plasings